Belangrike faktore wat die politieke landskap van Suid-Afrika karteer
Aangebied deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
Theo Neethling is sedert 1 April 2009 ’n professor in die Departement Politieke Studie en Regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het vanaf 2009 tot 2020 ook as hoof van die department gedien. Hy het in 1989 ’n MA-graad van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO (nou Noordwes-Universiteit) verwerf en in 1992 ’n DLitt et Phil-graad van die Universiteit van Suid-Afrika ontvang, albei in internasionale politiek. Ná ’n dienstydperk van ses jaar in die destydse Departement van Staatkundige Ontwikkeling in Pretoria het hy in 1996 by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Krygskunde (Militêre Akademie) aangesluit. Daar het hy gevorder tot professor en van 2003 tot vroeg 2009 gedien as voorsitter van die Departement Politieke Wetenskap (Mil) totdat hy by die Universiteit van die Vrystaat diens aanvaar het. Neethling is die skrywer, en medeskrywer in enkele gevalle, van meer as 200 gepubliseerde uitsette in wetenskaplike en populêr-wetenskaplike publikasies, waaronder 70 artikels in geakkrediteerde wetenskaplike joernale en 23 hoofstukke in vakkundige boeke. Hy het ook reeds meer as 80 navorsingsvoordragte by nasionale en internasionale akademiese byeenkomste gelewer. In dié verband het sy projekte hom geneem na buitelandse regerings en akademiese instellings in al vyf Afrika-streke, Asië, Australasië, Europa en Noord-Amerika. Hy het ook by verskeie geleenthede in die buiteland as besoekende dosent opgetree en op die redaksionele rade van verskeie akademiese publikasies gedien. Hy geniet sedert 2009 erkenning van die Nasionale Navorsingstigting as ʼn gegradeerde navorser.