Die binnerym van bloed

Digter Antjie Krog keer terug na die landskap van haar kindertyd, die Vrystaatse vlaktes, haar tuiste; ook die tuiste van haar ma, die skrywer Dot Serfontein. Dot is verswak en moet voltyds versorg word, maar haar intellek en humorsin is vlymskerp en haar skrywerskap vergelykbaar met die van haar dogter. In Die binnerym van bloed breek Antjie Krog die grense tussen genres af en gebruik briewe, dagboekinskrywings en versorgingsverslae om die waarheid van oud-word bloot te lê. Sy spoel die onoorkombare verskille tussen geslagte oop, maar wys ook die liefde en wedersydse bewondering tussen twee hoogs bekwame skrywers. Hierdie verhaal oor die verhouding tussen ’n ma en ’n dogter is Krog se mees persoonlike, ook haar mees universele. 

Antjie Krog is internasionaal veral bekend vir haar boek Country of my skull, ’n persoonlike verslag van die Waarheid-en-versoeningskommissie. Krog ontvang die land se belangrikste toekennings in die genres waarin sy werk: poësie, niefiksie en vertaling. Sy is vereer met die Hiroshima Peace Culture Foundation se Stockholm-toekenning, die Sentraal-Europese Universiteit se Open Society Prize en die Nederlandse Gouden Ganzenveer.  

R40 Penguin Publishers 18 Jul 17:00 ATKV Boeke-oase Antjie Krog, Francois Smith LanguageAfrikaans
Kategorie(ë):