Gebou soos Steffi Graf
Ná al die vreesaanjaende stories oor Wilgenhof (ʼn koshuis in Stellenbosch) het ek vreeslike goed oor my tyd in Die Plek probeer onthou, maar ál wat my geestesoog kon baasraak was flitse uit fantastiese partytjies. Die vroeë negentigs was ʼn sorgelose (gewis naïewe) tyd vir ʼn klomp onhebbelike seuns; ʼn eenvoudige era voor die aanslag van sosiale media en kragwoorde soos “toksies”, “woke” en “offensive”. Ons was aspris-onbewus van die wêreld buite die Bos, alles ín die Bos het vir ons gedraai om vriendskap, die prys van ʼn bottel Tassies en natuurlik … bowe alles: Wilgenhof. Gebou soos Steffi Graf is ʼn konsert (sonder verskonings of ideologiese masturbasie) oor jonk, dol en gelukkig wees in ʼn tyd toe ons aansienlik meer gelag as gefrons het.