Hulde aan die Helde – Peter Blum
Peter Blum word as die sterkste vernuwende stem van die vyftigerjare beskou ten opsigte van taalontginning, verstegniek en tematiek, en die belangrikste digter van daardie tyd wat skynwaarhede ontmasker het. Hy was van Oostenrykse afkoms en het in 1936 saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis. Hy het as bibliotekaris in Kaapstad en die Vrystaat gewerk. Dit was sy strewe om Afrikaans doelbewus uit te brei, alhoewel hy nie geglo het in die voortbestaan van Afrikaans nie. Blum se debuutdigbundel Steenbok tot Poolsee: verse (Nasionale Boekhandel Beperk, 1955) is ses keer herdruk. In 1960 het hy Suid-Afrika verlaat aangesien Suid-Afrikaanse burgerskap twee keer aan hom geweier is en hom in London gevestig. Blum sal onthou word as die digter wie se stem stil geword het en wat verbitter teenoor Afrikaans en Suid-Afrika in armoedige omstandighede in die vreemde gesterf het. Uit die huldigingsbundel van Proff. Henning Pieterse en Andries Visagie: Peter Blum, liminale digter in die (Suid-)Afrikaanse poësielandskap: ’n Huldiging.
