
AFVAL
Dalk is Afval net nie na my smaak nie, skryf Andréa Müller.
Ek het al heelwat van Afval gehoor. Dit was by verlede jaar se Woordfees en by vanjaar se KKNK en Suidoosterfees te sien, en is by 2022 se Première Teaterfees aangewys as wenner van die beste teks, beste ontwerp en beste ondersteunende aktrise. Ek het egter eers by vanjaar se Vrystaat Kunstefees die geleentheid gekry om dié klugkomedie te sien.
Ek lees dat die klug as genre gekenmerk word deur oordrewe vertolking, hoogs-onwaarskynlike gebeure en stereotiperende, kru karakterisering. Afval voldoen myns insiens volkome aan hierdie kenmerke: Die verhaal op sigself is absurd en daarom juis belowend (daarom ook dat ek die stuk graag wou sien); die karakters is herkenbare stereotipes en die vertolking is oordrewe en die humor is kru. Ek is egter nie oortuig daarvan dat Afval die beste voorbeeld van dié genre is nie.
Alhoewel die absurde verhaallyn belowend is, is die stereotiperende uitbeelding van die karakters – om dit baie eenvoudig te stel – boring. Is dit regtig nog snaaks om die spot te dryf met queerness, gay mans en bigger bodied-persone? Om volwasse vroue hulle borste vir ’n humiliating tydsduur vir ’n gehoor te laat skud? ’n Man in ’n pienk panty te sien? Klaarblyklik is dit, want die gehoor rondom my het behoorlik ge-skaterlag. En hoeveel keer kan grootmense vir die (Nederlandse) woord “poes” giggel? Klaarblyklik baie – aanhoudend, elke keer, te veel. Dis kru, dis kommin. (Dit klink nou baie preuts en snobisties, ek weet, maar ek assosieer nie een van dié twee adjektiewe as inherent sleg nie. Kommin kán ook kuns wees. En ek het geen kwale teen die gebruik van die p-bom nie.) Dalk is hierdie tipe humor bloot ’n acquired taste.
Die stelontwerp en kostuums, te same met die slapstick-agtige humor skep suksesvol die indruk van ’n sitcom. In hierdie geval het die gehoor die (na my mening, oordrewe) laugh track verskaf. Dit was alles aanvanklik baie belowend, en ek was gereed vir ’n bietjie lighartige teater en om te lag. Maar om baie eerlik te wees, as hierdie stuk wél ’n televisie-sitcom was, het ek die kanaal verander.
’n Disclaimer op hierdie punt: Ek erken volkome dat smaak verskil, en dat teater nie altyd “ernstig” of “swaar” moet wees om “goeie teater” te wees nie.
Nog ’n disclaimer: Ek het ’n sin vir humor. ’n Blerrie lekker een, if I say so myself. Maar hierdie stuk het ek glad nie só snaaks of vermaaklik gevind nie; in alle eerlikheid was ek vir die meeste van die tyd verveeld. Die stel wat amper-amper inmekaar wou tuimel wanneer die “voordeur” oopgemaak word, was vir my meer vermaaklik en onthoubaar. Bygesê, die dialoog en gebeure is opwindend, en ek dink die verhaal ontknoop lekker aan die einde.
Laastens: Die lewendige kat wat aan die einde van die stuk op die verhoog verskyn, het my eintlik net ontstel. Die arme ding! Ek wonder hoe eties dit is om lewendige diere by teater te betrek.
Ek is ook bewus daarvan dat my mening, ek skat, in die minderheid is, want die gehoor by die vertoning wat ek bygewoon het, was gaande daaroor. To each their own, I suppose. Dalk is Afval net nie na my smaak nie.