
BLACK BOI MEETS BOOGEYMAN
Black Boi meets Boogeyman is poëties, esteties en konseptueel besonders vars en grensverskuiwend, skryf Andréa Müller.
Black Boi meets Boogeyman is dalk die coolste ding wat ek al gesien of ervaar het. Ek kan dit die beste as ’n multi-kunswerk-VR-performance beskryf – ’n 360°-film, selfs. Black Boi meets Boogeyman is geskryf deur die bekroonde slam poet, skrywer, kunstenaar en sosiale aktivis Xabiso Vili en geskep in samewerking met die Universiteit van Johannesburg.
In hierdie grensverskuiwende stuk ondersoek Vili deur middel van poësie en dans (Swart) manlikheid en die wyses waarop toksiese manlikheid in wat hy “compassionate masculinity” noem, omskep kan word. Maar die stuk is nie slegs grensverskuiwend bloot in die wyse waarop dit met die konsep van manlikheid omgaan nie; dit breek letterlik deur die grense van tradisionele kunsmediums. Die kyker betree Black Boi se shack – verteenwoordigend van sy manlikheid en verskeie aspekte van die Suid-Afrikaanse kultuur – deur middel van ’n VR headset.
In Black Boi se shack word hy gekonfronteer deur Boogeyman in die gedaante van verskeie figure wat hom tart, met hom dans, hom bang maak, hom omhels. Daar is geen dialoog nie, maar musiek en pragtige spoken word poetry deur ’n ongesiene verteller. Black Boi en die figure in sy shack interact deur middel van dansbewegings. Black Boi én Boogeyman se verskeie gedaantes kyk gereeld direk vir die kyker – die ervaring is by tye besonders intiem, maar ook uitdagend en – truth be told – soms vreesaanjaend.
Maar die stuk is glad nie ’n horror fest nie; inteendeel, dit is pragtig. Esteties is dit mooi, die choreografie en regie is besonders en die spoken word-poësie is hemels in terme van klank, ritme en beeldspraak. Ek hoop om dié poësie eendag te kan lees en dit só te herbesoek.
Die VR-ervaring moedig verder die kyker aan om met die kuns in gesprek te tree deur drie vrae deur die loop van die film aan die kyker te stel. Die verhaal verloop volgens die kyker se keuses tussen antwoorde. Daar bestaan dus verskeie moontlike verhaallyne, en die kyker kan die film meer as een keer kyk (ervaar is dalk eerder die beter woord hier) en elke keer wegstap met ’n ander perspektief. Dit laat my dink aan wat ’n subjektiewe ervaring kuns is; daar is werklik nie een manier om daarmee om te gaan nie. Ek is veral mal daaroor dat hierdie kunswerk van die kyker vereis om werklik te engage daarmee.
Black Boi meets Boogeyman is poëties, esteties en konseptueel besonders vars en grensverskuiwend. Dit gee die kyker goosebumps, op die beste maniere moontlik. Dis boonop kuns vir die toekoms. Dit maak my baie opgewonde oor die toekoms van Suid-Afrikaanse kuns.