My project-1 (38)

BOEKGESPREK: HIERDIE LAND: DAAR IS IETS AAN SUID-AFRIKA. 56 SKRYWERS VERTEL

Suid-Afrika is beslis nie vir sissies nie, maar deur musiek, familie en stories is ons vir ewig gebonde aan hierdie teenstrydige ruimte en landskap, skryf Elzanne Coetzee.

Hierdie land: Daar is iets aan Suid-Afrika bevat ’n keur van skrywers, kunstenaars en ander bekendes se perspektiewe op die verbintenis wat elkeen het met Suid-Afrika. Hulle is gevra wat vir hulle uitstaan van die land. Wat is uniek en kosbaar aan Suid-Afrika? ’n Boek wat Suid-Afrikaners op hierdie stadium waarskynlik broodnodig het – veral teen die agtergrond van die land se politiek en die algehele trivialiteit van die daaglikse nuus.

Terwyl die meeste van die verhale bestaan uit positiewe elemente soos gelukkige jeugherinneringe en nostalgiese staaltjies, is daar maar altyd ’n sin van ambivalensie en deurlopende spanning in die bydraers se beskrywing van hulle verhouding met hulle land van herkoms.

Ruda Landman (gespreksleier) gesels met Nicol Stassen, Daniel Hugo en Bernard Odendaal oor onder meer hierdie gegewe tydens hierdie insiggewende gesprek.

Stassen noem dat die geheue selektief is, wat natuurlik bydra daartoe dat mense dikwels met ’n toegeneentheid dink oor hulle verlede, maar dit beteken nie dat die verlede altyd uitsluitlik met gelukkige herinneringe gevul is nie. Daarom is die titel Hierdie land juis ’n genuanseerde een – dit verwys na beide die lig en die donker in die beskouing oor Suid-Afrika. Die gevoel van “hier” het vir baie Suid-Afrikaners ’n “daar” geword – ’n versinnebeelding van die disillusie wat vir soveel Suid-Afrikaners so dikwels met die nadenke oor die land saamhang.

Odendaal noem dat hierdie samestelling van verskeie mense se unieke perspektiewe op die land ’n geleentheid is om die self en identiteit te herdink. Terwyl die meeste Suid-Afrikaners dikwels moedeloos voel oor die stand van sake in die land, noem ’n gehoorlid een kenmerk wat vir hom uitstaan van ons land se mense, is dat ons aanhou hoop. Iets wat as die morele boog (“moral arc”) van hoop bekend staan.

Odendaal noem ook dat ’n mens amper ’n aandadigheid of verantwoordelikheid voel as jy die land verlaat. Hy verduidelik dat dit dikwels eers in die buiteland is dat ’n mens besef wat jy doen en wie jy is, kan ’n verskil maak en beteken iets in die land waar jou hart lê.

Landman noem, en ek stem volkome hiermee saam, dat dit by tye irrasioneel voel om gebonde te bly aan ’n land wat so gereeld teleurstel, maar nogtans bly ons.

Suid-Afrika is beslis nie vir sissies nie, maar deur musiek, familie en stories is ons vir ewig gebonde aan hierdie teenstrydige ruimte en landskap.

Share this post