
BOEKGESPREK: SAGIE SE STORIE. ’N DRIELUIK: IS SAGIE, IS WEER SAGIE EN SAGIE IS
Ek vind Van Tonder as persoon fassinerend. Uit sy vertelling en deel van sy lewensfilosofie kan ’n mens aflei dat hy nie skryf om ryk of beroemd te word nie – hy skryf om ’n bestáán te maak, skryf Elzanne Coetzee.
Francois Smith (gespreksleier) open hierdie aangename gesprek met Jan van Tonder (skrywer van onder meer die Sagie-drieluik en Roepman) deur na die karakter Sagie se verhaal te verwys as “’n storie so mooi en so suiwer soos leivoorwater” – ’n besonderse raak beskrywing van hierdie onskuldige karakter se lewensverhaal.
Van Tonder verduidelik dat sy hoofvakke op universiteit sielkunde en kriminologie was en dat hy ná afloop van sy studies ’n tronkbewaarder in KwaZulu-Natal geword het. Dit is hier waar hy met die verhaal van Sagie vorendag gekom het. Die tronkervaring was inderdaad ’n traumatiese een vir Van Tonder, en hy vertel hoedat hy nodig gehad het om ’n karakter te skep wat weerloos is en gestroop is van alle skuld; ’n karakter wat hom sou help om vas te byt en kop te hou in die moeilike omstandighede van die tronk.
Die verhaal van Sagie speel af op ’n Klein Karoo-plaas, waar Sagie en sy pa die boerdery behartig. Hulle is onafskeidbaar en vorm amper ’n eenheid – ’n verhouding wat my laat dink aan dié van die bekende kinderverhaalkarakter Heidi en haar oupa. Smith noem ook dat die plaas in Sagie se verhaal vir hom voorkom as ’n idealisering van die plaaslewe – ’n soortvan sprokiesagtige paradysgegewe.
Natuurlik kan geen menslike ruimte absoluut rein en onaangetas wees nie. Terwyl die verhaal vertel word vanuit die kinderlike oogpunt van Sagie, weet ons as lesers dat sekere gegewens meer gelaai is as wat Sagie besef.
In die plaasomgewing waar hulle woon, is al die plaaswerkers byvoorbeeld Bruin en al die plaaseienaars is Wit. Wanneer Smith vir Van Tonder hieroor uitvra, verduidelik Van Tonder dat Sagie nie hierdie gegewens vreemd vind nie, want hy weet nie van beter nie. Sagie is ’n gestremde karakter en vanuit sy beperkte insig, aanvaar hy eenvoudig wat hy rondom hom sien. Dit laat die leser met ’n ambivalente gevoel, want jy verstaan terselfdertyd meer as wat Sagie rondom die situasie verstaan, maar jy weet ook dat hy nie slegte bedoelings het of kwaadwillig is nie.
Van Tonder noem dat intellek tweede viool speel teenoor onksuld in hierdie verhaal; iets wat eintlik verfrissend is in ’n wêreld waar intellek ge-fetishise word. Hy meen dat slim mense sukkel met onskuld, want as jy slim is, beskik jy ook oor die vermoë om geslepe te wees.
Ek vind Van Tonder as persoon fassinerend. Uit sy vertelling en deel van sy lewensfilosofie kan ’n mens aflei dat hy nie skryf om ryk of beroemd te word nie – hy skryf om ’n bestáán te maak. Terwyl dit soms behels om Poker te speel om sy huur te kan betaal of om nutsman te wees in ruil vir verblyf, praat Van Tonder met ’n toegeneentheid oor die lewe wat hy vir homself gebou het waaroor ’n mens nogal groen kan voel.
Die Sagie-drieluik is beskikbaar by die ATKV-Boeke-Oase.