My project-2 (11)

BOEKGESPREK: DIS SO GRAFIES! KAN STROKIES ’N LEESKULTUUR HELP KWEEK?

Jacobs se boeke is beslis ’n aanwins vir enige kind se boekrak, skryf Elzanne Coetzee.

In die baie vermaaklike gesprek tussen Naòmi Morgan (gespreksleier) en Jaco Jacobs (jeugboekskrywer en -vertaler) is die tema van grafiese/visuele elemente in jeugboeke bespreek.

Die gesprek is sommer afgeskop met die poeding voor die maaltyd – ’n lekker lewendige voorlesing deur Jacobs uit een van sy boeke, Oupa Zombie (2020, Pan Macmillan). Dit was verskriklik heilsaam om te hoor hoedat ’n saal vol volwassenes, ek inkluis, hulself inleef en saamlag vir die voorlesing van ’n boek wat op sesjariges gemik is.

Jacobs verduidelik dat daar ’n paar jaar gelede nog neergesien is op strokiesprente en boeke met grafiese elemente. Hierdie boeke sou byvoorbeeld nie aanvaar word binne die skoolkonteks as leerders gevra is om ’n boekverslag te skryf nie.

Met die leeskrisis wat ’n al dringender probleem raak in Suid-Afrika, moes die beskouing oor strokiesprente egter aangepas word. Die neuse kan eenvoudig nie meer opgetrek word vir hierdie literatuur as sommige leerders op hoërskoolvlak nog nie kan lees nie. Leesontwikkeling is die eerste prioriteit.

Een manier om kinders opgewonde te maak om te lees, is om van sekere grafiese elemente gebruik te maak in ’n teks. Jacobs vertel dat ’n “see van teks” intimiderend en vervelig kan wees vir kinders, veral vir kinders wat sukkel om te lees, en daarom is dit belangrik om die aandag te behou deur middel van elemente soos spraakborrels, illustrasies, puntsgewyse lysies en vir een van sy boeke, die Krok en Dil-reeks (2021, Pan Macmillan), maak hy selfs gebruik van handpoppe om die minlike karakters Krok en sy beste vriend Dil voor te stel. En moenie vergeet van ’n bietjie humor nie! Lees is immers veronderstel om genotvol te wees.

Verder beklemtoon Jacobs ook die belang van voorlees vir en sáámlees met kinders. Dit is hier waar nie net ’n liefde vir lees gekweek word nie, maar dit help ook met die ontwikkeling van taal-, lees- en spraakvermoëns, geheue, die aanleer van hoe verhaalontwikkeling plaasvind en ritme. Jacobs maan ook die gehoor aan: Moet tog asseblief nie praat van “boekies” as jy verwys na kinderboeke nie. Dit doen weg met die sin van prestasie as ’n kind ’n boek op sy/haar eie deurgelees het.

Wat veral uitstaan van Jacobs se boeke, is die moeite wat gedoen word om die eindproduk een te maak wat van goeie gehalte en langdurig is en, soos Morgan noem, een wat “oor generasies heen” behoue sal bly. Jacobs se boeke is beslis ’n aanwins vir enige kind se boekrak.

Share this post