
Die goeie pa: ’n beliggaamde ervaring
In sommige gevalle is dit beter om ’n boodskap oor te dra, veral een wat so kompleks van aard is, deur te “show, don’t tell”, skryf Elzanne Coetzee.
Die goeie pa bied ’n komplekse en ambivalente perspektief op die tema van generasionele trauma, misplaaste skuld, ontkenning, stilswye en geheimhouding wanneer dit kom by taboe-onderwerpe soos perversiteit en seksuele oortredings binne die gesinsverband.
Erika Breytenbach-Marais vertolk meesterlik die rolle van al vyf die karakters in hierdie toneelstuk, met haar optrede wat tot in die fynste besonderhede ’n volle beliggaming van elke karakter vertoon – sy is sag en sensitief wanneer sy die rol van Diaan vertolk, growwer en meer op die man af wanneer sy Diaan se tweelingsuster Karla is, selfvondaan en toksies-trots wanneer sy Dewald, die pa, se rol vertolk en verwytend en bitter as sy aan die ma Susan se dialoog lewe gee.
’n Besonderse hoogtepunt in Breytenbach-Marais se spel is die onderspeling van die klimaks van hierdie stuk. Hier verdien regisseur Paul du Toit (Fleur du Cap-wenner vir beste regisseur in 2022) beslis ’n pluimpie. In plaas van die meer algemene benadering tot hierdie tipe temas, waar ’n mens ’n dramatiese woede-uitbarsting of selfs gewelddadige aggressiwiteit sal verwag, is die klimaks juis treffend weens die beheerste wyse waarop die drade van hierdie storie bymekaargebring word.
Hierdie toneelstuk is ’n affektiewe en ongemaklike uitbeelding van hoe gevalle van problematiese familieverhoudings dikwels afspeel; met effektiewe beligting (Lize van Rooyen) en enkele, uitgesoekte rekwisiete om die stuk te begelei. Die gebruik van kleur, spesifiek die dieprooi (lees: bloedrooi), om onder meer die geboorte van ’n baba en, ironies, ’n moord voor te stel, is aangrypend en laat ’n hol kol op ’n mens se maag.
Die belewing van hierdie verhaal van vroue wat elkeen op hulle eie manier deur die “hoof” van die huishouding te na gekom is, is volgens my ’n uncanny een. Ek kan dit toeskryf aan twee dinge: Eerstens is die Afrikaanse gesinstruktuur, die eng gelowige kultuur en die verwagtinge wat daarmee saamgaan, in ’n groot mate só herkenbaar, maar ook tog so vreemd en beklemmend – die patriarg wat met alle mag en geweld en teen alle koste versorg en geëer moet word deur die vroue in sy lewe, die patriarg wat niks verkeerd kan doen nie, die stilswye wanneer hy wel oortree, die blindelingse lojaliteit aan die gesinsgesag.
Tweedens, en dis uiters tragies dat dít die geval is, is die storie van kinders wat deur ’n ouerfiguur/versorger seksueel mishandel word ewe herkenbaar en ongemaklik. Dit is juis herkenbaar omdat dit iets is wat in soveel gesinne gebeur en wat so ’n algemene onderwerp in die media geraak het – volgens ’n 2022-artikel op IOL is een uit elke vyf kinders in Suid-Afrika die slagoffers van seksuele mishandeling – dat die deursnee kyker teen dié tyd minstens minder sensitief is as voorheen vir hierdie tipe onderwerp. Nogtans bly dit ’n taboe in die oorgrote meerderheid van die samelewing om ’n woord te rep oor seksuele oortredings – veral binne die konteks van die heilige, hiërargiese gesin.
Die karakter Susan noem self dat bloedskande iets is wat in alle kulture onaanvaarbaar is, nogtans is nie een van die vier vrouekarakters bereid om te herken en/of erken dat Dewald die skuldige is nie. Selfs nie eens in die geval waar ’n psigiater direk vra daaroor nie. Interessant hier dat daar in die teks van Die goeie pa ook uitgebeeld word hoedat ons nie eens die regte woordeskat het om te verwys na seksuele oortredings en die nadraai daarvan nie; dit is byvoorbeeld eienaardig wanneer daar na Dewald verwys word as beide die oupa en die pa van sy dogter se kinders, of wanneer Karla noem dat sy beide haar susterskind se tannie en suster is.
Hierdie stuk is nie vir sensitiewe kykers nie – of miskien is dit juis. In sommige gevalle is dit beter om ’n boodskap oor te dra, veral een wat so kompleks van aard is, deur te “show, don’t tell” – iets wat juis met die grootste sorg en inspanning in Die goeie pa op die planke gebring word. Gaan kyk dié stuk as jy aanklank vind by bogenoemde temas; jy mag dalk net vind dat jy nie alleen is nie.