My project-2 (9)

BOEKGESPREK: STORIES UIT WOESTYNE EN ANDER WOESTE PLEKKE

Om met jou eie menslikheid en sterflikheid gekonfronteer te word terwyl jy onder die sterrehemel in die veld slaap, is iets om van te droom, skryf Elzanne Coetzee.

Ek was byna laat vir hierdie gesprek (en nogal die een waarna ek die meeste uitgesien het!) maar daar aangekom en ’n lekker glasie Lowerland-Die Wonderdraai-witwyn blend later, en ek is snoesig in die gehoor, gereed om meegevoer te word deur die stories van fotojoernalis en gespreksleier, Willem van der Berg, en reisjoernalis, Toast Coetzer. (Dankie aan die ATKV-Boeke-Oase wat verwarmers in die lokaal aangesit het!)

Beide Van der Berg en Coetzer is deel van die bekende Weg!-tydskrif-span, en die aand se gesprek is gesentreer rondom hulle gunstelingreisverhale en -ervaringe. Coetzer is een van die eerste reisskrywers in Afrikaans en terwyl dit beslis nie misgekyk kan word nie, vertel hy spottenderwys dat as mense hoor hy is van Weg!, vra hulle altyd uit na Dana Snyman, voormalige Weg!-reisskrywer en -redakteur, se doen en late eerder as wat hulle belangstel in Coetzer self. Hy is selfs al afgetrek langs die pad deur ’n man wat met ’n swaar bakkievrag vol hout oor ’n vervalle pad agter hom aangejáág het, net omdat die man die Weg!-handelsmerk op Coetzer se Toyota Condor gesien het en aangeneem het dis Dana Snyman se voertuig.

Coetzer het joernalistiek studeer en het eers in 2001/2002 as vryskut in die Kaap gewerk voordat hy voltyds by die Weg!-span aangesluit het. By Weg! het sy eerste bydrae gehandel oor sy ervaring as Engelse onnie in Korea. Hy verduidelik dat die Koreaanse fonetiek van so aard is dat hulle enige woord foneties kan uitspreek. Dis net gepas dat hy dus vir die kinders geleer “beesdrol” sê het.

Die deel van die gesprek wat my veral geprikkel het, het gehandel oor die verantwoordelikheid wat noodwendig met ’n reistydskrif soos Weg! saamhang. Hierdie verantwoordelikheid behels onder meer om die reiservaring te bring na mense wat dit nie self kan meemaak nie, om omgewingsbewus te wees en mindful te wees in die manier waarop verslag gelewer word en om die omgewings en mense wie se stories weergegee word, te respekteer en eerbiedig daarmee om te gaan.

Iets wat my nog nooit bygeval het nie, is die feit dat wanneer ’n artikel in ’n tydskrif soos Weg! gepubliseer word, dien dit natuurlik as bemarking vir die streek waaroor die artikel handel, maar dit kom egter nie sonder sy probleme nie. In die geval waar ’n afgeleë streek/omgewing in die kollig is in ’n reisartikel en waar pragtige, hoë-kwaliteit foto’s gedeel word, sal die lesers wat dit kan bekostig, waarskynlik self die area wil besoek. So ’n artikel dra by tot die toerismebedryf, wat aan die een kant ’n finansiele hupstoot vir die mense van die omgewing inhou, maar wat aan die ander kant ook die omgewing in ’n brose posisie laat; meer voete beteken ongelukkig ’n groter ekologiese voetspoor.

Van der Berg vertel byvoorbeeld van ’n staptoer wat hulle deur die wildtuin gedoen het, waar hulle onverwags paaie gekruis het met ’n beneukte olifantbul. Mits die olifant nie uiteindelik besluit het om hulle te laat vaar nie, sou die toergids hom moes skiet. Van der Berg noem dat dit ’n oomblik was waaroor hy emosioneel geraak het, want as diere geskiet moet word omdat mense op hulle natuurlike gebied oortree, is dit beslis nie die moeite werd nie.

Terselfdertyd stel ’n ervaring soos die een met die olifantbul, of om in ’n kremetartboom skuiling te neem soos wat Coetzer tydens ’n spesifieke reis het, die reisjoernalis in staat om ervaringe mee te maak wat mooier is as wat woorde kan beskryf.

Ek het die grootste waardering vir die bedagsame en aandagtige wyse waarop Van der Berg en Coetzer met hulle werk omgaan. Ten spyte van die moeilikhede wat met hierdie beroep saamhang, kan ’n mens sien aan die manier waarop beide Van der Berg en Coetzer oor hulle ervaringe praat dat hierdie manne ’n ware passie en liefde het vir wat hulle doen.

Om met jou eie menslikheid en sterflikheid gekonfronteer te word terwyl jy onder die sterrehemel in die veld slaap, is iets om van te droom.

Share this post