
DEIDRÉ: VERMAG HEELWAT MET MIN
Die wyses waarop tydspronge aangedui word, is vir my slim, maar die manier en die frekwensie waarop dit gedoen word, is effe sloppy en oorhaastig, skryf Andréa Müller.
Deidré is ’n debuut- en studenteproduksie onder regie van Lize-Marie Malan. Dit is deel van die Vrystaat Kunstefees se vrynge-kategorie, en val dus in die genre van randteater (“fringe theatre” in Engels – kudos aan die een op die feesspan wat die slim woordspeling van “vrynge” uitgedink het). Vir dié wat dalk nie bekend is met randteater nie: Collins-woordeboek omskryf hierdie tipe teater as “theatrical performance that is unconventional or otherwise distinct from the mainstream”. Dis ’n genre wat gekenmerk word deur risk-taking, baie min tegniese aspekte en klein rolverdelings. Tekste van hierdie tipe teater is geneig om meer obskuur, ongewoon, eksperimenteel en edgy te wees (of so vertel Wikipedia). Ek dink dis belangrik om hierdie kenmerke in ag te neem wanneer Deidré bespreek word.
Deidré vertel die verhaal van hoe ’n vrou, Deidré (Juné Pretorius), wraak neem nadat haar lewe “nie uitgedraai [het] soos sy beplan het nie” (so vertel die produksie-beskrywing op die feesprogram). Ons sien Deidré as jong joernalistiekstudent wat Josh (Barend Kriel), ’n regstudent, ontmoet wanneer hy haar help om haar kar te jumpstart. Hy vra vir haar nommer, en so begin hulle liefdesverhaal op byna sprokiesagtige wyse; ons lei af hulle trek saam in en trou. Maar intussen word Deidré met kanker gediagnoseer, en dít raak die rede vir die verbrokkeling van haar huwelik – sy is nie meer “mooi” en “jonk” nie. Sy en Josh baklei konstant; hy drink al hoe meer en sy word al hoe meer bitter en koud teenoor hom. Hulle 10-jaar-huweliksherdenking is vir haar “niks om te vier nie”. Verstaanbaar: Josh kafoefel met sy jonger, mooier regstudente.
Deidré besluit om wraak te neem. Ons lei af dat sy Josh se “jonger, mooier regstudente” ontvoer en martel, en dan daaroor berig lewer in die koerant waarvoor sy as joernalis werk. Haar laaste slagoffer vermoor sy (of so kan ons van die oop einde aflei). Beide Deidré én Josh verander in monsters in eie reg wat beide ’n onskuldige slagoffer neem.
’n Mens kan egter die volledige verhaal en verloop van gebeure eers aanmekaarsit nadat jy die volle vertoning gesien het. Die vertoning bestaan uit grepe en brokke wat spring tussen die verlede (Deidré as jong, verliefde vrou) en die hede (Deidré 10 jaar later, as verbitterde vrou). Daar is selfs tonele wat parallel uitspeel. Dié spronge word moontlik gemaak deur die beligting; die verhoogligte word afgeskakel en in dié donkerte word subtiele kostuumveranderings gemaak en rekwisiete op die verhoog geplaas. ’n Fotoraam met die glimlaggende jong paartjie word verwyder en verander om die kyker verder te oriënteer in terme van die tydlyn van Deidré en Josh se verhouding. In die laaste toneel is Josh se gesig uitgekrap.
Die wyses waarop tydspronge aangedui word, is vir my slim, maar die manier en die frekwensie waarop dit gedoen word, is effe sloppy en oorhaastig. Die geskarrel op die donker verhoog ruk ’n mens vir ’n oomblik terug na die werklikheid toe; dit was daarom vir my moeilik om heeltemal oortuig te word deur die karakters en die gebeure op die verhoog. Bygesê, dit ís randteater, en daar word inderdaad heelwat met baie min hulpbronne vermag. ’n Kitaarspeler wat off-stage onder ’n lig sit, speel byvoorbeeld deurlopend saggies kitaar, wat as agtergrondmusiek vir die gebeure op die verhoog dien. Ek het gedink dis ’n effektiewe manier om by te dra tot die skep van ’n onheilspellende atmosfeer, gepas vir dié stuk.
Dit is by tye moeilik om by te bly en die storie aanmekaar te sit, en die paartjie se konstante bakleiery is ’n bietjie verwarrend en repetitive. Pretorius se vertolking van beide Deidré’s is hoofsaaklik oortuigend, maar die vertolking van al die karakters oor die algemeen is na my sin net-net té oordrewe. Tog het die verhaal wel ’n baie lekker, onverwagse twist wat ’n bevredigende “a-ha”-moment bied.
Dis wel verblydend om te sien dat studente dit waag om buite die boksies van tradisionele teater te skep en die grense van die kunsvorm só uitdaag en verbreed.