
DIE FEL OMSTREDE KROON VAN EDWARD II EN GAVESTON: ’N MOET-SIEN
Ek het die hoogste respek vir die hele geselskap van Die fel omstrede kroon se vaardigheid en talent – sjoe, skryf Andréa Müller.
Wow, julle – Die fel omstrede kroon van Edward II en Gaveston is meesterlik.
Die oorspronklike teks deur die Belgiese skrywer Tom Lanoye is ’n aanpassing van Christopher Marlowe se Edward II uit 1594 en spreek kwessies van mag, liefde, verraad en selfvernietiging aan. Die oorspronklike, volledige titel deur Lanoye heet: Die fel omstrede kroon en die deerniswekkende dood van Koning Edward II & sy gunsteling-Jonker Gaveston onder wiens betowering hy sy rug keer op sy koningin en die kroonprins tot die steeds groeiende woede van die hele adelstand en die grotendeels nog onbegrypende gepeupel.
Die dialoog is oordrewe, dramaties en skerp, met fyn humor en baie passie ingeweef. Ek was aanvanklik skepties oor die oordrewe taalgebruik, maar kort voor lank het ek aan Edwin van der Walt, Beer Adriaanse, Rolanda Marais, André Roothman, Wilhelm van der Walt en Caleb Payne se lippe gehang. Ek het nog nooit iets soos dit in Afrikaans gehoor of gesien nie.
Regisseur Marthinus Basson het fantastiese werk gedoen, nie net met die regie nie, maar ook met die ontwerp. Die stel, die kostuums, die beligting (Nicolaas de Jongh), die musiek (David Wolfswinkel) – dis alles pragtig. Elke detail skakel met mekaar. Ek het veral gehou van die goed-deurdagte, slank en sjiek ontwerp van die stel en die kostuums, en die manier waarop die refleksie van lig op die stel se bewegende panele en die blinkers en juwele op die kostuums mekaar herhaal en komplementeer. Die deursigtige panele wat die gehoor as’t ware ’n glimpse gee van wat agter die skerms van die koninklike hof aangaan, is baie effektief. Die kontras tussen die oordrewe taalgebruik en passievolle vertolking en die eenvoudige stel is myns insiens briljant.
Selfs al is dit ’n lang stuk (150 minute, met ’n kort breuk tussen-in), is dit deurlopend aangrypend. Van der Walt, Adriaanse, Marais, Roothman, Van der Walt en Payne vertolk hulle karakters oortuigend. Marais verdien veral lof vir haar vertolking van Isabella. Ek het die hoogste respek vir die hele geselskap van Die fel omstrede kroon se vaardigheid en talent – sjoe.
As daar net één produksie is wat jy vanjaar moet kyk, is dit Die fel omstrede kroon.