My project-1 (19)

Die goeie pa

En dis híér waar ek dink die stuk ’n baie belangrike een is: Terme soos “grooming” en “Stockholm syndrome” word gebruik, terme wat ek nie gereeld in die hoofstroom-Afrikaanse diskoers rondom seksuele geweld, bloedskande en trauma hoor nie, skryf Andréa Müller.

Die goeie pa is Paul du Toit se Afrikaanse vertaling en verwerking van Gail Louw se Engelse teks The good dad. Dis ’n eenvroustuk met Erika Breytenbach-Marais in die hoofrol. In Du Toit se verwerking bestaan die stel uit slegs ’n reghoekige, wit platform wat in die middel van die verhoog geplaas is. ’n Grys kussing en rooi kombers is die enigste rekwisiete op die stel. Terwyl teatergangers hulle plek inneem, is rooi verhoogligte gerig op die platform; leeg behalwe vir die kussing en die kombers daarop. Dit skep ’n onheilspellende beeld.

Die stuk begin met ’n fantastiese oomblik waarin die vierde-muur tussen gehoor en verhoog momenteel gebreek word. Wanneer die stuk aan die gang kom, besef ’n mens egter dat die eenvoud van die stel en rekwisiete glad nie onderskat moet word nie (ook nie die eerie vibe nie) – want wat op dié platform uitspeel, tref hárd en bitter ongemaklik. Hiermee dan die trigger warning wat nié op die reklame vir die stuk gegee is nie: Die derms van seksuele geweld en bloedskande word noukeurig blootgestel en by tye eksplisiet uitgebeeld in hierdie stuk. Moet eerder nie kyk as jy ernstig deur hierdie onderwerpe en ervaringe ontstel word nie.

Breytenbach-Marais vertolk vier vrouens wat die psigologiese trauma van seksuele geweld deur die vader van die huis verwerk. Sy skakel soomloos tussen Diaan (in die tronk vir die moord op haar mishandelaar en verkragter), die ma Susan (in ontkenning en vol verwyt) en Diaan se tweelingsuster Karla (gepynig deur skuldgevoelens en woede). Selfs die vader, Dewald, word vlugtig vertolk.

Die vier vroue se uiteenlopende ervaringe, emosies en verwerkings van die trauma wat deur die patriarg veroorsaak is, word kragtig deur Breytenbach-Marais uitgebeeld. Dis egter nie nét die trauma van bloedskande, seksuele geweld en die moord op die vader nie, maar ook dié van skaamte en stilbly waarmee hierdie vroue worstel. Selfs al is die patriarg nou dood, sukkel die drie vroue om verlos te word van die psigiese skade van sy dade.

En dis híér waar ek dink die stuk ’n baie belangrike een is: Terme soos “grooming” en “Stockholm syndrome” word gebruik, terme wat ek nie gereeld in die hoofstroom-Afrikaanse diskoers rondom seksuele geweld, bloedskande en trauma hoor nie.

Beligting (Lize van Rooyen) word verder effektief ingespan om die skakeling tussen die vier vroue en hulle perspektiewe (en herinneringe) aan te dui. Die skaduwees wat die beligting gooi oor die verhoog, was vir my baie effektief in terme van die karakters se monoloë en atmosfeer; skaduwees van trauma en die verlede as’t ware. Of selfs van die dooie patriarg. Ek weet nie of dit opsetlik so beplan is nie (dalk lees ek te veel daarin), maar dit is myns insiens baie effektief op só ’n kaal verhoog.

Breytenbach-Marais moet gelukgewens word met haar uitbeelding en vertolking van hierdie ongemaklike, traumatiese stuk. Die gehoor word met ’n baie ongemaklike realiteit gekonfronteer. Dis ’n stuk wat ’n mens uit jou gemaksone pluk; ek het die gevoel gekry dat die gehoor hulle kollektiewe asem opgehou het regdeur die 65 minute van die vertoning en eers uitgeblaas het toe die ligte weer aangegaan het. ’n Mens kon ’n speld hoor val in die oomblikke van stiltes wat Breytenbach-Marais deur haar 65-minute-lange optrede besonders effektief time en benut.

Alhoewel die verhaallyn by tye onrealisties en selfs oordrewe gevoel het, is ek meegevoer deur die manier waarop die verhaal soos ’n puzzle aanmekaar gesit word; ’n puzzle waarvan elke vrou stukkies gee totdat die geheelbeeld onthul word. Die manier waarop die klimaks onderspeel word, is ook teen verwagting en effektief.

Hopelik dra Die goeie pa by tot hernude diskoersvoering oor seksuele geweld, trauma, grooming, bloedskande en die wyses waarop patriargale geweld uitkring en áltyd meer as een slagoffer het. Hopelik word dit nie verminder tot die vlak van ’n Huisgenoot-sensasiestorie nie.

Sjoe, julle.

Share this post