Etienne van Heerden 

Etienne van Heerden word vanjaar 70. Hy het ’n belangrike deel van sy grootwordjare op plase in die Graaff-Reinet– en Cradock-distrikte deurgebring, ’n ervaring wat neerslag vind in die wyse waarop die Karoo meermale as ’n soort protagonis in sy prosawerk opduik. Sy hoërskool– en studentejare bring hy op Stellenbosch deur. Hy kwalifiseer aanvanklik as prokureur, en is ook ’n tydperk in die reklamewêreld werksaam. Nagraadse letterkundestudies maak dit hierna vir hom moontlik om die akademie te betree, waar hy hom nie net op sy eie skryfwerk nie, maar ook die begeleiding van studente in kreatiewe skryfwerk toespits. As stigterredakteur vestig hy die multitalige kulturele webruimte LitNet, vanjaar ’n kwarteeu oud. Hy tree herhaaldelik op as (mede-)redakteur of –samesteller van letterkundeverwante publikasies. Naas rubrieke, akademiese artikels, literatuurkritiek en joernalistieke vryskutwerk, sien ’n wye verskeidenheid kreatiewe skryfwerk van hom die lig: tot dusver veertien romans, drie kortprosabundels, drie solo- of groepsdigbundels en ’n kabaretteks. Talle bekronings het op sulke publikasies gevolg, waaronder twee maal die Hertzogprys vir Prosa. ’n Verskeidenheid van sy werke is voorts in meerdere tale vertaal. Vir sy kreatiewe en kreatiwiteitbevorderende bydraes in breër Afrikaanse kultuurverband is hy eweneens herhaaldelik vereer. Hoewel sy skryfwerk dikwels van literêr-uitdagende aard is, kry hy dit reg om geliefd te wees by ’n breër leserspubliek.

Met: Etienne van Heerden, Hennie van Coller 
Taal: Afrikaans  
Tydsduur: 60 min 
Prys: R40 
Plek: NALN 
Tyd: 4 Jul 18:00 

Koop Kaartjies