
Incognito: stof tot nadenke
In hierdie stuk kry “mind over matter” ’n hele nuwe betekenis, skryf Elzanne Coetzee.
Die konsep waarop die toneelstuk Incognito gebaseer is, is ’n interessante een. Wat maak ’n genie geniaal? Wat onderskei die intelligentstes onder ons van die res van die samelewing? Wat word van ’n brein wat die een of ander vorm van trauma ervaar? En is identiteit en geheue blote illusies?
In Incognito word die verhaal van ’n komplekse netwerk van 21 karakters vertel, met Barend Kriel, Jani Marais, DJ Kruger en Daniëlle Doubell in die rolverdeling. Elkeen van die vier akteurs vertolk meer as een rol, met die afwisseling van postuur en aksente om die onderskeid van die karakters en hulle verhaallyne te vergemaklik. Dis jammer dat die aksente nie Suid-Afrikaans is nie, maar eerder Amerikaans, Brits en Duits. Ek sou graag ’n aangrypende konsep soos hierdie een binne die konteks van Suid-Afrika wou sien.
Hierdie toneelstuk is ’n amateurproduksie wat in opdrag van Concord Theatricals Bpk aangebied word namens Samuel French Bpk. Die monotone grys kostuums staan veral uit as aantrekkingskrag. Terselfdertyd is die stel slim ontwerp met ’n paar stoele weerskante van die verhoog, ’n klavier centre stage, vier hoër wit stoele en ’n stellasie wat werklik ’n kunswerk op sigself is – bestaande uit wit vertikale stroke teen die agtergrond van die verhoog wat voortgesit word bo die koppe van die akteurs in ’n menslike brein-vorm.
In hierdie stuk kry “mind over matter” ’n hele nuwe betekenis. Die kwessie van onder meer die oes van Einstein se brein sonder sy toestemming word aangeraak. Dit laat die kyker met ’n tipe wat-was-eerste-vraag: Was Einstein geniaal omdat sy brein fisies anders lyk as die algemene persoon s’n of was hy geniaal omdat hy aanhoudend gewerk het en sodoende altyd sy kennisveld verbreed het? Die vraag kan ook breër gestel word: Wat maak ’n mens die persoon wat hy/sy is?
Terwyl hierdie toneelstuk by tye frustreer weens die omslagtige en herhalende aard daarvan – sonder genoegsame motivering – is die vrae wat daardeur geopper word, beslis stof tot nadenke.