
NARREWALES: HIER GAAN DIE POPPE DANS!
Ek dink onwillekeurig aan hoe die karnaval eens op ’n tyd die plek was waar mense vir ’n oomblik kon afsien van hulle grense (en kom ons wees eerlik, inhibisies), kon ontsnap aan die samelewingsreëls en ’n oomblik van vryheid kon ervaar, skryf Elzanne Coetzee.
As die feesweek jou moed begin breek, gaan kyk Narrewales! Glo my, jy sal nie spyt wees nie. Ná ’n besige week van feesdraf, kan ’n mens ’n bietjie voos begin voel, en dis juis nóú dat ’n lekker-saamlag-sessie net die ding doen.
In Narrewales berei die narre (Sjaka S Septembir, Charl Henning, Isabelle Grobler, Tamzy Dyantyi, Naledi Dassie, Sikuthali Oliver Bonga, Peace Molefsane, Nwabisile Mophasa, Mosa Rabannye en Tsegothtso Matile) van die Bloem Klown Troop voor om ’n belangrike persoon te onthaal – die rooitapyt word gans uitgerol! Wie dié persoon is, sal jy maar self moet uitvind.
Dis chaos op die verhoog soos wat dié klomp narre rondskarrel om alles betyds gereed te kry. En soos my pa sal sê: “Dis ’n nodelose storie”, maar op die beste manier.
Elkeen van die kunstenaars in hierdie produksie is 110% committed en dit is verfrissend om soveel energie, spontaniteit en entoesiasme op die verhoog te sien. Terselfdertyd is dit so ’n ontspannende ervaring.
Die wonder van hierdie narrespel lê in die wyse hoedat die narre jou deel laat voel van nie net die produksie en wat op die verhoog plaasvind nie, maar ook werklik deel van die gehoor. Hierdie stuk is universeel, enigiemand kan dit verstaan, en dit strek oor die grense heen. Fantasties dat narre, wat tradisioneel elkeen ’n eie (opgemaakte) taal het en meestal met hulle liggame en bewegings kommunikeer, so ’n helder verhaallyn kan oordra.
Ek dink onwillekeurig aan hoe die karnaval eens op ’n tyd die plek was waar mense vir ’n oomblik kon afsien van hulle grense (en kom ons wees eerlik, inhibisies), kon ontsnap aan die samelewingsreëls en ’n oomblik van vryheid kon ervaar. As ’n mens deel is van ’n groep waarvan almal besig is om hulself gate uit te geniet, kry jy nogal dieselfde gevoel.
Sjaka S Septembir (regisseur, skrywer en fisiese teater-akteur) vertel in ’n onderhoud op RSG dat die Bloem Klown Troop ’n inisiatief is waardeur hulle mense uit minder gegoede buurte bekend stel aan en leer van ’n “nuwe”, oftewel skaars, teatervorm in Suid-Afrika, en veral in die Vrystaat – iets wat hulle sal kan verder vat.
Dit is beslis ’n wonderlike inisiatief wat jou ondersteuning verdien!