P.G. du Plessis

P.G. du Plessis sou vanjaar 90 geword het. Hy begin sy professionele loopbaan as onderwyser en dosent in Johannesburg. Daarna word hy ’n navorsingsdirekteur en senior koerantjoernalis te Pretoria. Hierop volg ’n loopbaan as vryskutskrywer en deeltydse boer. Hy word ook aanbieder van besonder gewilde geselsprogramme en, gebaseer op vroeëre koerantrubrieke, skepper van die bekroonde televisiereeks Koöperasiestories. Deurgaans neem hy deel aan openbare debatte oor letterkundige sake, veral oor verantwoordelike sensuur. Op literêr-kritiese terrein lewer hy talle resensie-, artikel- en boekbydraes. As skrywer van vyf gepubliseerde en herhaaldelik bekroonde toneelstukke – waaronder met die Hertzogprys vir Drama – trek hy besondere letterkundige aandag. Dié werke is byna deurgaans verwerk vir radio, film en televisie, en vertaal in Engels. Verskeie ongepubliseerde verhoogwerke uit sy pen is voorts suksesvol opgevoer. Ook op die gebied van die kortprosa dra hy beduidend by, veral met sy herhaaldelik gebundelde en bekroonde Koöperasiestories. Sy eerste roman is in Engels, maar sy draaiboek vir ’n Engelstalige televisiereeks groei uit tot die Afrikaanse roman Fees van die ongenooides – wyd vereer as een van mees uitstaande Afrikaanse letterkundige werke tot op hede. P.G. du Plessis, deur medeskrywer Chris Barnard bestempel as “’n méns in die volste sin van die woord”, het naas boekpryse verskeie toekennings ontvang vir sy lewensbydrae tot die Afrikaanse kultuur.
Met: Hennie van Coller, Anthea van Jaarsveld, Nico Luwes
Taal: Afrikaans
Tydsduur: 60 min
Prys: R40
Plek: NALN
Tyd: 3 Jul 18:00