T.T. Cloete
T.T. Cloete, oorlede in 2015, sou op 31 Mei vanjaar ’n eeu oud gewees het. Hy het op ’n plaas in die Vredefort-koepel grootgeword. Aan die begin van sy studentejare aan Tukkies doen hy polio op, die gevolge waarvan hy sy lewe lank sou voel. Hy sit sy studies aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO voort. Einde 1949 vertrek hy na Nederland om drie jaar later aldaar ’n proefskrif te voltooi. Hy verwerf daarna bekendheid as Afrikaanse en Nederlandse letterkundige en literatuurwetenskaplike aan die Universiteite van Port Elisabeth en Potchefstroom, as skrywer van ’n ryke oes aan navorsingspublikasies en literêre resensies, asook as (mede-)redakteur van invloedryke publikasies soos Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig en Literêre terme en teorieë. Vir sodanige werk is hy meer as ’n dosyn kere vereer. In 1983 moet hy, as gevolg van sy verswakte gestel, aftree as hoogleraar. Drie jaar tevore het hy egter met Angelliera as digter gedebuteer – en sou nog nege digbundels, asook ’n dramawerk en kortverhaalbundel die lig laat sien. Sy skeppende skryfwerk, waaronder sy omdigtings van die Psalms in die 1990’s, is eweneens herhaaldelik bekroon; twee keer met die Hertzogprys. Soos Joan Hambidge in 2011 skryf, het Cloete “trefseker, helder, intelligent en aangrypend” met woorde omgegaan, en “’n uitgebreide feesmaal” aan Afrikaanse skryfwerk nagelaat.
Met: Bernard Odendaal, Leana Lategan
Taal: Afrikaans
Tydsduur: 60 min
Prys: R40
Plek: NALN
Tyd: 2 Jul 18:00