My project-1 (33)

VROU ENS.: DIE KYK WERD!

Dis iets wat jy wíl beleef; ’n toneelstuk wat ’n mens oor en oor kan gaan kyk sonder dat dit eentonig sal raak, skryf Elzanne Coetzee.

Mandri Sutherland vertolk in Vrou ens., ’n eenvroustuk, die rolle van ’n opgestoke kerktannie, ’n diepsinnige vrou wat haar jeugherinneringe besoek, ’n fiksheidfanatikus en ’n stereotipiese hipster-karakter van Seepunt.

Sutherland het beslis die kuns bemeester om moeiteloos en gesellig met die gehoor om te gaan – iets wat dalk nie soos ’n besonderse uniekheid klink nie, maar wat wel uitstaan en prys verdien, is die wyse waarop sy haar gehoor beheer.

As jy, soos ek, gewoonlik senuweeagtig voel wanneer jy hoor dat ’n toneelstuk interaktief is, moenie vrees nie! Sutherland is gemaklik in haar omgaan met die gehoor. Die interaksies dien ’n funksionele doel en voel daarom nie lukraak nie, en die stuk sou eenvoudig nie dieselfde wees sonder hierdie element nie. Dis iets wat jy wíl beleef; ’n toneelstuk wat ’n mens oor en oor kan gaan kyk sonder dat dit eentonig sal raak.

Om ’n toneelstuk by te woon en binne die bestek van een uur te lag, te huil, onderbreek te word deur messelaars wat (onvoorsiens?) herstelwerk aan die venue doen en wéér te lag, sonder om vir ’n enkele oomblik die draad te verloor van die besonderse spel wat voor jou oë afspeel, is myns insiens net moontlik as die akteur(s) op die verhoog ’n produksie van uitsonderlike gehalte lewer en professioneel is in elke opsig van die woord. Sutherland voldoen 100% hieraan.

Vrou ens. is uitstekend op alle vlakke. Sutherland se slim verwewing van verskeie vorme van humor, soomlose afwisseling tussen karakters, haar skerp waarnemings en vermoë om inhoud te skep waarin daar vir ieder en elk waarheid steek sonder dat enigeen sal aanstoot neem, is iets wat ’n mens eenvoudig móét ervaar.

Share this post