Henning van Aswegen skryf volkstories en kinderverhale oor die Vrystaat se hartlike mense en snaakse diertjies uit sy grootworddae langs die Sandrivier. In VrystaatStories ontmoet ons Mossieman en Geronkie die Donkie, wat inwoners in ondeunde avonture en poetse laat beland. Die stories is oorspronklik, humoristies en vir almal van 8 tot 80. By die fees gaan Henning nie net voorlees nie: hy bring ook ou speelgoed saam en demonstreer dit sodat die kinders kan sien hoe daar in die ou tyd gespeel is en terselfdertyd van respek, empatie en omgee leer.
Henning van Aswegen is in Bloemfontein gebore en het as ’n offisier in die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) en die burgerlike intelligensiedienste gedien. Terwyl hy by die Potchefstroomse Universiteit studeer, het hy as korrespondent vir die South African Associated Newspapers (SAAN) en later as politieke korrespondent by die Perskor-groep gewerk. Hy is ’n intelligensiehistorikus en skrywer, bekend vir sy boeke en artikels oor die Suid-Afrikaanse burgerlike intelligensiedienste.









