Die outeur van Die Menslike Dieretuin publiseer ’n nuwe boek wat drie strome van menslike ontwikkeling – biologies, ekologies en tegnologies – verweef. François Durand ondersoek die mens se reis van die Afrika-savanne tot op die vooraand van die Sesde Uitwissing, en beklemtoon die ekologiese gevolge van tegnologiese vooruitgang, van klipwerktuie tot landbou. Anders as optimistiese vertellings, wys hy hoe beskawing se hoogtepunt – kuns, wetenskap en kultuur – ten koste van die natuur tot stand gekom het; en hoe ons triomf uiteindelik ook ons ondergang kan wees.
Prof. François Durand van die Departement Dierkunde aan die Universiteit van Johannesburg is alombekend vir vier dekades se radiopraatjies en openbare lesings oor die natuur, gesondheid en geskiedenis en as ’n gereelde gas op RSG. As bekwame kunstenaar verskyn sy werk in boeke, op posseëls en goue munte. Sy jongste boek, Nemesis – die Opkoms en Ondergang van Beskawing, is ryklik geïllustreer.









