Lina Spies is een van die bekendste en mees geliefde Afrikaanse digters met ’n goue oes van ikoniese gedigte soos “Op die dood van Riëtte”, “’n Paternoster vir Suid-Afrika”, “Lied van die kinders” en “Rembrandt”.
Ons is oortuig dat die eerbaarste eerbetoning betuig word deur die poësie van mededigters.
Die bundeltitel is ontleen aan ’n versreël uit een van Spies se verse, naamlik “Kringloop” (opgeneem in Sulamiet, 2016) en dui op die samevoeging tussen herinnering en voortsetting. In elkeen van die vier en vyftig opgenome gedigte is sprake van aanknopingspunte.
Sommige verse tree op ’n duidelik aantoonbare wyse in gesprek met spesifieke gedigte van Spies. Benewens direkte ruggespraak sluit sommige verse ook op ’n subtieler en wyer omskrewe wyse aan by tematiese kodes in Spies se repertoire soos kinders, katte, kunstenaarskap en die dood.
Ons hoop dat hierdie huldigingsbundel poësielesers sal aanmoedig om met hernude belangstelling die digkuns van Lina Spies te verken en haar blywende impak op die Afrikaanse digkuns in oënskou te neem.
Alwyn Roux en Neil Cochrane is verbonde aan die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap aan Unisa. Hulle is die samestellers van Merang (2025), ’n versameling van 182 nuwe Afrikaanse gedigte. Roux se debuutbundel, Weerskyn (2024) was op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.




