Die Stasiemoordenaar het van 1986 tot 1994 die Kaapse Vlakte geterroriseer toe 22 jong seuns spoorloos verdwyn het. Sommige liggame is in sandduine gevind, met hul hande agter hul rûe vasgebind, maar die meeste van die moorde bly onopgelos. ’n Laerskoolonderwyser is skuldig bevind aan een moord en is ná 28 jaar tronkstraf op parool vrygelaat. Die ervare joernalis en skrywer Julian Jansen volg die spoor van die Stasiemoordenaar en ondersoek hierdie donker raaisel wat steeds by families en gemeenskappe spook.
Julian Jansen is ’n bekroonde ondersoekende joernalis wat 18 jaar lank as verslaggewer vir Rapport gewerk het en tans as vryskutverslaggewer vir Netwerk24 en Kuier verslagdoen. Hy is die skrywer van die topverkoperboeke Die De Zalze-moorde, Moord op Stellenbosch en Die moord op Deveney Nel.





