Jaco Jacobs is een van Suid-Afrika se bekendste en mees geliefde jeugskrywers met 25 jaar se ervaring in die skryfbedryf en ’n indrukwekkende versameling boeke. Sy unieke vermoë om jong lesers se verbeelding aan te gryp, het hom oor die jare ’n gunsteling onder kinders en tieners gemaak. Jaco bied daagliks interaktiewe sessies aan waar hy uit sy boeke voorlees, stories laat lewendig word en jong gehore aktief betrek met kreatiwiteit en inspirasie. Dit is ’n geleentheid vir kinders om self deel te word van die storiewêreld.
Jaco Jacobs is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse jeug- en kinderboekskrywer met meer as 25 jaar se ervaring in die bedryf. Hy is bekend vir sy humoristiese en kreatiewe stories wat jong lesers se verbeelding vasvang en leesliefde aanmoedig.
Kom kuier by die leefstyltent tydens die Vrystaat Kunstefees en geniet voorlesings deur bekendes uit die vermaaklikheidsbedryf van LAPA se gewilde kinderboeke.
Tussen oorloë en wêrelde volg die verhaal van Rebekka, ’n kampkind van die Anglo-Boereoorlog wat as arm bywoner op Kameeldoornplaas grootword. Skrander en lief vir leer, word sy gedwing om skool te verlaat en uiteindelik aan die Wright-gesin “verkoop”. In Oxford vind sy haar voete as kinderoppasser, met nuwe kennis en vriendskappe wat haar wêreld verbreed. Maar oorlog dreig weer, en Rebekka worstel met haar identiteit – tussen Boer en Brit, plaas en herehuis.
Irma Joubert is ’n oudonderwyser, spesialis joernalis en ongetwyfeld die doyenne van Suid Afrikaanse historiese fiksie. Haar boeke, soos die Tussen stasies-, die Pontenilo– en die Oorlogs-trilogieë, is almal plaaslike topverkopers en is in Engels, Nederlands en Duits vertaal en wêreldwyd gepubliseer. Irma bly in die Kaap, maar reis nog graag om navorsing vir haar boeke te doen.
Suiker (1958) van Hugo Claus is een van sy beste en veelbekroonde dramas, waarin taal, naturalisme, melodrama en humor meesterlik saamvloei. In ’n suikerfabriek in Noord-Frankryk wag vyf Vlaamse gasarbeiders op die einde van die seisoen. ’n Driehoekverhouding tussen die geslepe Max, die naïewe Kilo en Malou, ’n jong vrou, ontvou binne ’n paar dae tot ’n klimaks. Die verhaal simboliseer paradysverlies en die verganklikheid van drome, die enigste manier om die harde werklikheid te verduur.
HP (Hennie) van Coller is uitstaande professor (emeritus) en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is die skrywer en redakteur van talle publikasies, waaronder die alombekende Perspektief en profiel. ’n Literatuurgeskiedenis (2016) en Etienne Leroux: Die rumoerige swart nar. ’n Huldiging (2023). Hy is veelvuldig bekroon met onder meer die Gustav Preller-prys vir literatuurwetenskap, die Jan H Marais-prys en die NP van Wyk Louw-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Mila Kozlowa is ’n Moskouse psigoterapeut wat tydens beradingsessies sit en fantaseer oor geroosterde salm en seks. Sy dink ook aan haar oud en verswakte ouma Babusja. Wat steek sy vir haar weg? Het haar ouers regtig tydens ’n ruimtereis verdwyn? Wanneer Mila ’n Suid-Afrikaner ontmoet wat sy oorlogtrauma met haar deel, begin die skeidslyn tussen werklikheid en fantasie vervaag. Waar eindig die droom en begin die realiteit? En vir hoe lank kan ’n mens jou eie leuens glo?
Gerda Taljaard is die skrywer van die romans ’n Engel in die hoenderhok, Kelder, Die laksman se dogter en Vier susters. Die laksman se dogter is met die kykNET-Rapport-filmprys vereer; Vier susters is bekroon met die kykNET-Rapport-fiksieprys en die ATKV-Woordveertjie vir prosa. Haar gedigte en kortverhale verskyn in verskeie publikasies en sy is met die Litera- en De Compagnie-prys vir beste kortverhaal bekroon. Sy woon in Pretoria.
Min weet die staatsamptenare Pixley en Joubert wat op hulle wag wanneer ’n minister hulle opdrag gee om apartheid en koloniale monumente regoor die land te ondersoek en te verwyder. Terwyl hulle op reis gaan om hierdie belaaide geskiedenis te evalueer, raak hulle ook vasgevang in hul eie persoonlike stories. Familie, liefde en selfs die bonatuurlike begin inmeng en soos geheime na vore kom, raak die vrae oor verlede en erfenis net al hoe ingewikkelder.
Theo Kemp het sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy was voorheen betrokke by verskeie projekte in die kunste in sy rol as, onder meer, projekbestuurder van die Woordfees, reklamekoördineerder by NB-uitgewers, programbestuurder van die KKNK asook die Vrystaat Literatuurfees en as uitvoerende bestuurder van die Breytenbach Sentrum op Wellington.
Ná die wêreld se mees beskaafde egskeiding, bevind ’n ontnugterde Juna Ferreira haar in ’n klein dorpie sonder ’n plan vir haar toekoms. Wanneer sy ’n unieke litteken op ’n dorpenaar se wang herken, stuur dit haar in die teenoorgestelde rigting – ver, ver die verlede in. Sy herbesoek haar grootwordjare op die Vrystaatse goudvelde; ’n tyd wat sy as sorgvry en gelukkig onthou. Maar was dit regtig so? Hoeveel donker geheime lê vasgevang in die ruïne van die eens statige ou Limestone House?
Zelda Bezuidenhout is ’n skrywer van jeugverhale, kortverhale, radiodramas, rubrieke, reklamekopie en volwasse fiksie. Haar eerste roman vir volwassenes, Die dekonstruksie van Retta Blom, het in 2019 verskyn en haar tweede, Die waarde van stil bure, in 2021. In 2020 behaal sy en Lunéll Kruger die eerste plek in Netwerk24 se luisterdramakompetisie met Koppelkat. Sy woon op Parys in die Vrystaat.
Die duiwel is hierdie jaar los by die klooster van die heilige sint William, Beskermheilige van die Metaversum. Die klooster, geleë in die eens vrugbare mieliedriehoek in die Vrystaat, bied jaarliks ’n passiespel aan waarop hulle alle hoop om oorlewing vestig. JC van Schouwenburg, wat die hoofrol vertolk, het egter onverklaarbaar verdwyn. Dapper de Wet, roosteler, gourmand en deurwinterde loodswaaier, is desperaat om hom op te spoor, maar ’n ontwykende moederowerste, onbehulpsame personeel en ’n beeldskone onderwyser kompliseer sy lewe.
Anton Roodt het ’n MA in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Hy is ’n professionele argitek en het verskeie toekennings vir sy firma se werk ontvang. Hy is ook ’n visuele kunstenaar. Sy debuutroman, Weerlose meganika, is met die Jan Rabie-Rapportprys bekroon. Hy en sy vrou, Zarine, woon in Bloemfontein.
Die verhaal volg weer Biko April, wat drie dae het om blyplek te vind – platsak en sonder plan. Tydens hierdie krisis ontmoet hy by ’n kunsuitstalling ’n Joodse meisie wat sy lewe verander. In die vroeë 2000’s in Kaapstad, te midde van PAGAD-bomme en spanning, ontvou ’n onvoorspelbare liefdesverhaal wat hoop bring. In Dharma-dwaas in Doodloopstraat bou Septembir voort op sy debuut en meng literêre fiksie met satire, erotiek en spiritualiteit en verken begeerte, identiteit, geloof en waarheid.
Sjaka Septembir is al drie dekades lank ’n skrywer, digter, akteur en regisseur, bekend vir grensverskuiwende werk wat literatuur en teater meng. Sy debuutroman het sterk reaksie ontlok en is deur kritici hoog geprys. Met Dharma-dwaas in Doodloopstraat bevestig hy weer sy plek as ’n unieke en uitdagende stem in die Afrikaanse letterkunde.