In memoriam Johann de Lange verskyn ’n jaar ná sy dood en eer hom as een van Afrikaans se groot digters. Die bundel bevat Johann Lodewyk Marais se monografie oor hul lewenslange vriendskap en gesprekke oor digkuns en letterkunde. Essays en kort stukke belig minder bekende fasette van De Lange.
Die tweede deel bied 42 elegiese gedigte deur Joan Hambidge – emosioneel, besinnend en ryk aan simboliek, metafore en intertekste, veral met De Lange en Van Wyk Louw. Die werk is ’n intieme huldeblyk aan ’n digter wat diep spore gelaat het en Hambidge ’n “geeltruiboek” noem.
Aangebied deur NALN.
Stella Blakemore is 120 jaar gelede naby Lindley gebore. Sy is bekend as skrywer van kosskoolverhale wat seuns en dogters veral vroeër jare getroue lesers gemaak het. Die bekendste hiervan is die Maasdorp- en Keurboslaan-reekse. Vir die Keurboslaan-reeks het sy haar Afrikaanse oupa se naam en van – Theunis Krogh – gebruik. Die reekse is al talle kere herdruk en bly steeds gewild. Blakemore het sowat 50 boeke gepubliseer en ’n merkwaardige bydrae tot Afrikaanse jeuglektuur gelewer.
Aangebied deur NALN.
Die digter Johann Lodewyk Marais is 70 jaar gelede in Hillbrow gebore, maar word groot op die plaas Sans Souci in die distrik Harrismith, waar hy Sotho vlot leer praat. As plaaskind ontwikkel hy ’n groot liefde vir die natuur. Hy begin op hoërskool ywerig lees. Sy eerste gedig is in standerd 9 in Die Vaderland gepubliseer. Sy eerste digbundel, Die somer is ’n dag oud, verskyn in 1983 en word in 1984 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Sy werk word hoog aangeprys en onder meer as “natuurgevoelig” bestempel. Hy skryf ook reisboeke en biografieë.
Aangebied deur NALN.