btt

Ons kom vanaf ons stories – Platfontein Print Portfolio III

Platfontein, tuiste van die !Xun- en Khwe-gemeenskappe, beskik oor ryk tradisies, tale en mondelinge geskiedenisse wat, ten spyte van verplasing en voortdurende uitdagings, steeds belangrike uitdrukkings van kulturele identiteit bly. Sedert 2017 bring die Platfontein-drukprojek, geïnisieer deur die Vrystaatse Kuns- en Gesondheidsprogram, jong kunstenaars en gemeenskapsoueres saam om tradisionele verhale in lino-drukreekse te omskep. Deur mentorskap, opleiding, uitstallings en kreatiewe samewerking help die projek om kulturele kennis te bewaar terwyl dit nuwe generasies kunstenaars en storievertellers ontwikkel. Aangebied in
samewerking met die Isibindi-jeugsentrum, bevorder die inisiatief gemeenskapstrots, dialoog en welstand deur etiese, gemeenskapsgedrewe kunspraktyke.

Die Platfontein Drukprojek is ’n inisiatief van die Vrystaat Kuns- en Gesondheidprogram van die International Institute for the Arts (IIA), Universiteit van die Vrystaat, in vennootskap met die Isisbindi Jeugsentrum en die Vrystaat Kunstefees.

Die uitstalling is daagliks oop van 09:00 tot 18:00.

You are what you eat

You are what you eat bied ’n speelse maar nadenkende verkenning van identiteit deur getransformeerde alledaagse voorwerpe. Deur antieke items soos teekoppies en lepels te gebruik, skep die kunstenaar miniatuur-olieverfskilderye met trompe l’oeil-effekte wat grense tussen voorwerp en beeld vervaag. Kontemporêre en persoonlike beelde word op historiese artefakte geplaas om ’n dialoog tussen verlede en hede aan te wakker. Met ’n ligte, tong-in-die-kies toon ondersoek dit behoort, geheue en transformasie. Elke werk word ’n metafoor wat kykers nooi om oor identiteit as ’n voortdurende proses na te dink.

Die uitstalling is daagliks oop van 09:00 tot 18:00.

Witnesses

In Witnesses ondersoek Franli Meintjes beide fisieke en sielkundige kwesbaarheid binne die konteks van ‘n magies-realistiese landskap. Hierdie verbeelde wêreld, deurdrenk met storievertelling en mitologie vergestalt die teenstrydigheid daarvan om tegelyk ’n toevlug en ’n bron van vrees te wees. Met haar persoonlike ervarings van die Suid-Afrikaanse landskap as vertrekpunt, verken sy die onderlinge verbondenheid van herinnering, plek en argitektuur deur middel van ‘n veselgebaseerde installasie. Saam met hierdie werke skep sy figuratiewe en abstrakte tekstuurryke stukke deur gebruik te maak van punch needle-, tufting- en knooptegnieke.In teenstelling met uitbeeldings van argitektoniese verval, roep hierdie hangende veselstrukture eienskappe van ontwikkelende, organiese lewe op.

Die uitstalling is oop Maandag tot Vrydag (7-10 Julie) van 08:00 tot 17:00 en op Saterdag (11 Julie) van 09:00 tot 16:00.
Opening: 7 Julie, 18:00.
Rondwandeling: 8 Julie, 12:00 – 12:45.

Wat is ‘n huis

Wat is ’n huis deur Anthony Dalton herbesoek die visuele taal van Afrikaanse, godsdienstige muurversierings uit die middel-20ste-eeu om identiteit, geheue en kulturele simboliek te ondersoek. Dalton herskep die estetika van dekoratiewe afdrukke uit Suid-Afrikaanse huise van die 1960’s en 70’s deur handgeverfde glas, nostalgiese kleure en tydgebonde tipografie. Werke soos Wat is ’n huis sonder ’n daddy, Wat is ’n huis sonder ’n puppy en Wat is ’n huis sonder ’n twink ondermyn tradisionele gesinsboodskappe deur kontemporêre queer-beelde in te bring. Hierdie speelse maar kritiese benadering skep spanning tussen nostalgie en queer-uitdrukking en nooi besinning oor tuiste, behoort en kulturele simbole.

Die uitstalling is daagliks oop van 09:00 tot 18:00.

Underground Spiritual Game

Underground Spiritual Game ondersoek ’n simboliese visuele taal wat deur intuïsie en innerlike prosesse gevorm word en nie maklik in woorde verhaal kan word nie. Gestileerde, totemagtige figure – deels mens, dier en argetipe – suggereer eerder as verklaar. Deur gelaagde tekens, patrone en kleur betrek die werke temas van spiritualiteit, geloof en onsigbare strukture. Al lyk dit speels, omsluit dit kompleksiteit en verwys na persoonlike narratiewe, kulturele geheue en identiteit. Die uitstalling nooi kykers om self betekenis te verken, waar simbole merkers én raaisels word.

Die uitstalling is daagliks oop van 09:00 tot 18:00.

UKWAMBULELWA

UKWAMBULELWA is ’n voortdurende fotografiese kunswerk wat ondersoek hoe die gees homself deur drome, rituele, die land en oorgeërfde simbole openbaar. Die projek put uit die kunstenaar se droomervarings waardeur persoonlike en geestelike begrip gevorm word. Dit is gewortel in Afrika-spirituele kennis en beskou die land as ’n lewende argief van geheue, afkoms en teenwoordigheid. Riete en water verteenwoordig die kernsimbole van oorsprong, ontstaan, reiniging en verbondenheid. Omdat dit met analoogfilm geskep is, weerspieël die werk ’n stadige, ritueelagtige proses. UKWAMBULELWA vereer Afrika-kosmologieë as lewende kennissisteme en ondersoek verder hoe drome, voorouerlike teenwoordigheid en landskapidentiteit behoort en geestelike verantwoordelikheid vorm.

Die uitstalling is daagliks oop van 09:00 tot 18:00.

The fine art of the screen print

’n Skermdruk is meer as net die finale beeld; dit sluit die hele proses van samewerking in. Die werk word gevorm deur faktore soos ateljeeruimte, residensietydlyne en tegniese moontlikhede; dit ontvou as’t ware soos improvisasieteater. Kunstenaars tree spontaan en sonder ’n vaste teks in dialoog, vertrou op mekaar se kundigheid en reageer op kreatiewe prikkels. Hierdie dinamiese uitruil verruim hul kreatiwiteit en lei dikwels tot verrassende resultate. Dié keurversameling vir die Vrystaat Kunstefees wys die omvang van moontlikhede binne hierdie proses en beklemtoon elke kunstenaar se unieke visuele taal.

Die uitstalling is daagliks oop van 09:00 tot 18:00.

Talk of the Village

Talk of the Village bied ’n uitstalling van Oos-Vrystaatse kunstenaars se kuns in gemengde media aan: olieverf, pastelle, herwinde materiale, grond, draad en materiaal. Die kunswerke ondersoek gemeenskapsidentiteit en werp lig op die alledaagse dorpslewe, tradisie en kulturele evolusie. Die style wissel van realisties tot abstrak en weerspieël persoonlike en kollektiewe geheue. Die temas sluit Basotho-motiewe soos Ditema, arbeid, kulturele kontinuïteit en praktyke soos lebollo in. Die uitstalling vier erfenis, beklemtoon gemeenskapswaardes en die idee dat ’n kind deur ’n dorp grootgemaak word en bied insigte in die landelike lewe.

Aangebied deur die Sentrum vir globale Verandering aan die Universiteit van die Vrystaat.

Die uitstalling is daagliks oop van 09:00 tot 18:00.

Tafelmaniere

In Tafelmaniere word borde nie net gesien nie, maar ook “gehoor”. Met hierdie uitstalling trek die bord ’n kontemporêre kunsbaadjie aan en word sodoende bevry van sy tipies beleefde, huishoudelike rol. Onbeskroomd en uitgesproke daag die werke die beskouing van keramiek as tradisioneel-funksioneel uit. Elke bord word ’n kunswerk – tasbaar en gelaai – en nooi kykers om die rituele, hiërargieë en onuitgesproke reëls wat ons tafels én ons lewens vorm, te heroorweeg.

Die uitstalling is daagliks oop van 09:00 tot 18:00.

Soil & Water

Soil & Water is ’n internasionale kunsprogram wat gesamentlik ontwikkel en gekureer word deur prof. Johan Thom (Universiteit van Pretoria), dr. Basak Senova en die NIROX-stigting in Suid-Afrika. Dit stel ’n dinamiese, modulêre platform voor wat uit die Wieg van die Mensdom voortvloei om ons brose verhouding met grond en water te herbedink en te herverbeel. Deur ekologie, storievertelling en materiële kultuur erken dit dat hierdie verhoudings kultureel ingebed is, nie bloot wetenskaplik nie. Die projek poog om idees en aksies te skep vir ’n volhoubare transformasie van ons betrokkenheid by die natuurlike wêreld, sy hulpbronne en ons plek daarin vir toekomstige geslagte.

Die uitstalling is daagliks oop van 09:00 tot 18:00.