Hoe vind ’n storie sy weg van een taal na ’n ander sonder om sy hart te verloor? Bekroonde skrywers Fanie Viljoen en Jaco Jacobs gesels oor die kuns en uitdagings van vertaling, die oorsteek van grense tussen tale, en die maniere waarop stories nuwe lesers vind.
As deel van die gesprek word daar ook teruggekyk na die werk van Janie Oosthuysen en haar bydrae tot die wêreld van vertaling en literatuur. Sluit aan vir ’n boeiende gesprek oor taal, stories, kreatiwiteit en die belangrike rol wat vertalers speel om literêre wêrelde vir nuwe gehore oop te maak.
Die verhaal van die Eenheid vir Taalfasilitering en Bemagtiging (ETFB) ontvou teen die agtergrond van ’n veranderende, gedemokratiseerde Universiteit van die Vrystaat en ’n breër Suid-Afrikaanse konteks. Die Eenheid het gefokus op taalonderrig, taalregte en praktiese oplossings om meertaligheid te bevorder en wedersydse begrip tussen sprekersvan verskillende tale te fasiliteer. Hierdie narratief belig nie net die uitdagings en transformasie van ’n nuwe demokratiese bestel nie, maar ook die rol van taal as brugbouer in ’n samelewing in oorgang.
Dit bied waardevolle insigte vir taalhistorici, sosiolinguiste en taalpraktisyns, en dokumenteer die ontwikkeling van inisiatiewe wat ’n blywendeimpak op Suid-Afrika se taallandskap gehad het.