btt

Eerste vir alles

Eeue nadat hulle uit die paradys gesmyt is, besin Adam en Eva oor die huwelik: dit was nie maklik om die proto-paartjie te wees nie, hoor? Alles moes vir die eerste keer uitgepluis word: liefde, kinders en huishou. Noudat die laatlammetjie die huis verlaat, het Adam en Eva weer net mekaar vir geselskap. Na baie goed en kwaad het hulle vir oulaas ’n appeltjie met mekaar te skil. ’n Komedie oor saam ou bene maak, veral as een die ander ’n ribbebeen skuld.

’n Ko-produksie van Suidoosterfees en Vrystaat Kunstefees, moontlik gemaak deur Het Jan Marais Nationale Fonds

CRYBABY

Op ’n gewone oggend by ’n dagsorg ontdek die driejarige Samuel die verwoestende krag van die nuus. In ’n oomblik verander hy van ’n sorgelose kind in ’n uitgeputte klein “volwassene”, oorlaai deur tragiese hoofopskrifte en die swaar lot van die mensdom. Crybaby is ’n absurde tragikomedie oor die tol van ’n geldgierige wêreld wat in duie stort. Terselfdertyd is dit ’n liefdesbrief aan mens se kinderjare en ’n skerp herinnering: grootword is nie kinderspeletjies nie.

’n Feesteforum-produksie. Moontlik gemaak deur NATi, ondersteun deur die Festival Enterprise Catalyst (FEC), in samewerking met die Jobs Fund.

Die ander dogter

’n Tienjarige dogter vind toevallig uit van ’n suster wat twee jaar voor haar geboorte oorlede is. Dié dogter was die Franse skrywer Annie Ernaux, wat in 2022 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het. Skielik was Annie nie meer ’n enigste kind nie, maar die plaasvervanger vir ’n groot afwesigheid wat voortleef in haar ouers se woordelose verdriet. Haar suster moes sterf sodat sy as die “vervanger” kon leef. ’n Ragfyn stuk oor skuld, familie en verlies.

’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie

Gryp elke grasHolm

Gryp na elke grashalm humor, hoop of harmonie wat jy kan kry, want die wêreld is tans deurmekaar! Ons moet maar self die komedie maak en die lag skep. Gryp elke grasHolm kan jou dalk net help in hierdie soektog na snaaks, sagtheid en sin. In haar splinternuwe eenvrouvertoning, Gryp elke grasHolm, doen Marion Holm wat sy altyd doen: komedie met baie hart.

Huis van Sand

Huis van Sand vertel van Babs en Sandy wat leef op die leftovers van hul verlede. Hul klein karavaan is ’n pondokpaleis vol geheime – hul eie sandkasteel. Sandy het haar swerwersbestaan langs die N7 verruil vir ’n nuwe begin by Rodney, die bottel gebêre om Babs groot te maak. Maar daarmee saam het groeipyne en erfsondes gekom. Babs probeer haar herinneringe afwas, maar die stofstorms van die verlede haal haar telkens in. Hul onthou neem die gehoor op ’n verbeeldingsvlug waar grense begin vervaag.

’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi