btt

LEEFBAAR

‘n Nuwe Afrikaanse toneelstuk deur Nico Scheepers ondersoek die brose grense tussen familie, geheue en oorlewing. Wanneer Stefan onverwags hoor dat sy ouers op pad is – ná jare se halfsinne en ontwykende kontak – word sy noukeurig gekonstrueerde lewe stilweg ontwrig. Dit is ’n skerpsinnige en herkenbare blik op erfenis … nie net van grond of besittings nie, maar van liefde, skuld en verwyt. Met fyn waarneming en donker humor ontbloot LEEFBAAR die Afrikaner se byna bonatuurlike vermoë om in stilte te oorleef.

Trou is nie Perdekoop nie

Milan en Daniel is ’n jong paartjie in hul vroeë dertigs, hulle is ongetroud en is al amper drie jaar lank in ’n ernstige verhouding. Hulle werk hard, is lief vir mekaar en deel dieselfde drome. Wel, soortvan. Milan wil trou en Daniel wil nie. GAME ON! Die poppe gaan dans. Albei bring hul allerbeste; dis ’n kaalvuisgeveg. Gaan hulle opbreek? Of gaan hulle hierdie perd opsaal en besef trou is nie perdekoop nie? Kom lag (en huil) saam.

Waterbrief

Na haar tragiese verdrinking lig Nina die sluier tussen lewe en dood om na haar familie se rou te kyk. Sy sien hoe hulle ly, baklei, liefhet en wanhopig word sonder haar teenwoordigheid. Maar sy help hulle ook om weer liefdevol, lewendig en vol hoop te wees. Waterbrief is geskryf deur die bekroonde dramaturg Nico Scheepers en met die uiters talentvolle aktrise Minke Marais is dit ’n drama vir almal wat iemand liefhet wat oorlede is. Vir almal wat weet hoe oorweldigend stilte kan wees.

Ms. B-haved

Met dertig jaar se onderwyservaring agter die rug word die geliefde mev. Sally Burkett nie sommer deur skandale van stryk gebring nie. Maar haar skielike skorsing ruk die klein dorpie en almal soek die ware storie! Sally het veranderende beleide, leerstyle en nuwe-era ouers trotseer – wat kon sy moontlik gedoen het, en kan sy herstel? Lag saam met Sally terwyl sy oor haar lot peins en uitpak oor wat alles gelei het tot hierdie hel van Zoom-aanlyn onderrig! Debuutregie deur Natasha Sutherland.

Mart Marais staan op

Wanneer Mart Marais se suinige suster besluit om kostes te bespaar en ’n goedkoop begrafnisondernemer, AVKOP, gebruik, ontspoor dinge dramaties. By die hemelpoorte daag Mart op met ’n eighties-perm so onheilig dat selfs die engele ongemaklik raak. Petrus herken haar nie en stel voor sy wag tot die perm uitgesak het voor sy weer kom aanklop. En so beland Mart – dood, maar nie stil nie – op haar eie begrafnis. Wat volg is ’n nadoodse nagmerrie.

A Girl Called Owl

Wanneer Olivia na ’n klein dorpie in die Overberg verhuis, trek haar stil nuuskierigheid ’n ondeunde vriendin aan: Kay, die meisie met die litteken, wat haar die bynaam “Uil” gee. A Girl Called Owl is ’n onverskrokke grootwordverhaal oor verlore onskuld, onderdrukte kreatiwiteit en misverstaande liefde.

’n Pamflet met besonderhede oor die inhoud van die produksie is beskikbaar.

Die Ontmoeting

’n Middeljarige man kom op ’n afgelëe staproete van aangesig tot aangesig met die boelie uit sy tienerjare te staan. Die geleentheid vir wraak wink, maar eers moet hy besluit of sy boelie reeds boete gedoen het. Die Ontmoeting is donkersnaaks en diep menslik en verken manlikheid en die blywende letsels van wreedheid op skool. Terselfdertyd daag dit ons uit om ons gepolariseerde narratiewe van slagoffer en oortreder, wraak en versoening, en die natuur versus versorging te heroorweeg.

Doolhof

’n Jong paartjie is vasgevang in die smeulvuur van liefde, geloof, seksuele grense en verwagtinge wat in elke gesprek vlamvat. Ewan plaas druk op die volgende stap in die verhouding. Joey kyk vas teen haar geloof en haar beginsels. Met poëtiese monoloë, realistiese konfrontasies en stiltes wat meer sê as woorde, verken Doolhof die werklike vrae van jong volwassenes vandag: Hoe werk liefde as jy steeds na jouself soek? Hoe vêr is te vêr? Dis rou, dis eg, dis onvoorspelbaar.

Beste Van Alle Tye

’n Satiriese blik op Afrikanerwees in die 21ste eeu. Koegelenberg en Van Niekerk ontleed die politiese, maatskaplike, kulturele en absurde landskappe waarin Afrikaners/Afrikaanssprekendes hulself bevind en uitleef. Van popmusiek tot piramideskemas, tafelgebede en ’n voorliefde vir aksente – niks hier is heilig (of veilig) nie. Dié produksie is ’n karatewaterkonkoksie van sketse, musiek, dans en parodieë. Beste Van Alle Tye is genomineer vir Kanna-toekennings vir Beste Aanbieding: Blitsteater en Beste Aanbieding: Komedie by die 2025 Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Beste Van Alle Tye is by die 2025 Klein Karoo Nasionale Kunstefees benoem in die kategorieë Beste Aanbieding: Blitsteater en Beste Aanbieding: Komedie, en is in 2026 met die Kanna vir Beste Aanbieding: Komedie bekroon.