btt

Gryp elke grasHolm

Gryp na elke grashalm humor, hoop of harmonie wat jy kan kry, want die wêreld is tans deurmekaar! Ons moet maar self die komedie maak en die lag skep. Gryp elke grasHolm kan jou dalk net help in hierdie soektog na snaaks, sagtheid en sin. In haar splinternuwe eenvrouvertoning, Gryp elke grasHolm, doen Marion Holm wat sy altyd doen: komedie met baie hart.

JUSSIE SUSSIE

Aletta het na ’n ander provinsie getrek en, jussie sussie, die lewe het sommer baie verander sedert haar vorige vertoning, Effens Anders. Hierdie girl lewe kliphard en doen deesdae enigiets vir die plot. Bederf jouself met ’n kaartjie en kom kekkel saam oor al haar nuwe ervarings en absurde observasies!

Die ander dogter

’n Tienjarige dogter vind toevallig uit van ’n suster wat twee jaar voor haar geboorte oorlede is. Dié dogter was die Franse skrywer Annie Ernaux, wat in 2022 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het. Skielik was Annie nie meer ’n enigste kind nie, maar die plaasvervanger vir ’n groot afwesigheid wat voortleef in haar ouers se woordelose verdriet. Haar suster moes sterf sodat sy as die “vervanger” kon leef. ’n Ragfyn stuk oor skuld, familie en verlies.

’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie

Die Siel van Eugène Marais

’n Nuwe blik op ’n literêre reus: Die Siel van Eugène Marais verbeeld Marais as mens én digter – briljant, gebroke en voortdurend op soek na betekenis. Met literêre teks, musiek, visuele effekte en metamorfoseteater plaas die produksie sy stryd, verlange en nalatenskap sentraal sodat dit vandag relevant en emosioneel herkenbaar is.

The Little Prince

The Little Prince vertel die verhaal van die vriendskap tussen ’n loods en ’n blonde seuntjie wat begin met die vraag: “Teken vir my ’n skaap?” Die Prinsie het waarskynlik van Asteroïede B612 af na die aarde gekom. Die veteraanakteur Chris van Niekerk vertel die verhaal uit die loods se oogpunt, terwyl die gehoor die epiese reis op die volkoepel van die planetarium volg. Hierdie is ’n unieke geleentheid om een van die wêreld se klassieke verhale te ontdek.

Die Klein Prinsie

Die Klein Prinsie vertel die verhaal van die vriendskap tussen ’n loods en ’n blonde seuntjie wat begin met die vraag: “Teken vir my ’n skaap?” Die Prinsie het waarskynlik van Asteroïede B612 af na die aarde gekom. Sy reis deur die heelal word vertel deur die akteur Chris van Niekerk (Beste Vrystaatse Kunstenaar 2017 vir hierdie rol) en geïllustreer deur ’n volkoepelvertoning in die Naval Hill-planetarium deur Leon Snyman. Die vertaling is deur Naòmi Morgan.

Teken vir my ’n vliegtuig

Teken vir my ’n vliegtuig vertel die verhaal van die Duitse bomvlieënier wat onwetend die Lockheed P-38 van Antoine de Saint-Exupéry, skrywer van Die Klein Prinsie, afgeskiet het. Die produksie voer die gehoor terug na die 1940’s, waartydens twee belangrike gebeure plaasgevind het: die skryf van Die Klein Prinsie, en die dood van die skrywer daarvan. Die handeling speel af in die moderne Duitsland, waar die bejaarde bomvlieënier ontdek dat hy onwetend ’n klassieke skrywer doodgemaak het.

Geen Diagnose

Geen Diagnose is ’n eenmanvertoning wat die terapiesessies van vyf Afrikaanse mans volg. Die vyf mans deel hul mees intieme gedagtes onder die wanindruk dat die gesprekke privaat is. Hierdie dinamiek neem egter ’n skielike wending wanneer ’n misdaad in die terapeut se spreekkamer gepleeg word. Nou word hul eens private gesprekke bewysstukke wat die terapeut met ’n speurder moet deel. Al ses karakters – die vyf mans en die terapeut – word deur Dwayne Vorster vertolk.