btt

Die Klein Prinsie

Die Klein Prinsie vertel die verhaal van die vriendskap tussen ’n loods en ’n blonde seuntjie wat begin met die vraag: “Teken vir my ’n skaap?” Die Prinsie het waarskynlik van Asteroïede B612 af na die aarde gekom. Sy reis deur die heelal word vertel deur die akteur Chris van Niekerk (Beste Vrystaatse Kunstenaar 2017 vir hierdie rol) en geïllustreer deur ’n volkoepelvertoning in die Naval Hill-planetarium deur Leon Snyman. Die vertaling is deur Naòmi Morgan.

’n Gevaarlike heelal

Potensieel-gevaarlike naby-die-aarde-voorwerpe is asteroïede en ander ruimterommel binne ongeveer 50-miljoen km vanaf die Aarde wat groot genoeg kan wees om massasterftes en skade aan die planeet te veroorsaak. Afhangend van hul grootte, spoed, invalshoek en impakgebied, kan hierdie voorwerpe miljarde lewens bedreig met impak en in die daaropvolgende tsoenami’s, aardbewings en brande. Dan is daar ruimteweer … En wat lê anderkant die sonnestelsel? Het ons maniere om hierdie bedreigings die hoof te bied?

Mysteries of your Brain

Beleef ’n geanimeerde avontuur saam met ’n meisie en haar kraai-metgesel in hul soektog na wat die menslike brein so besonders maak. Saam sal julle langs die paaie van neurone zoem, uitvind hoe mens- en dierbreine verskil en illusies op ’n groot skaal beleef! Onderweg leer jy hoe jou brein jou maak wie jy is en sien jy dat ons uiteindelik elkeen die krag het om ons breine te verander.

Lillie en die Liggie-kompas

Lillie is ’n dapper dogtertjie wat in feetjies en dwergies glo en elke dag in haar tuin na hulle soek. Maar sy het ’n geheim … sy is bang vir die donker! Een aand vind sy ’n flikkerende, liggie-kompas wat haar na ’n towerwêreld lei. Daar wag avontuur, sprokiespret en nuwe vriende. Lillie leer dat ’n liggie nie sonder die donker kan skyn nie.

Trieng!

Trieng – trieng! Hallo? Praat jy oor jou slimfoon? Of deur ’n skoen? Dit maak nie saak nie. Bel as jy verlang, dit is tog dieselfde sterre wat bo ons almal hang. Die produksie, spesiaal ontwikkel vir 4-maande oue tot 5-jarige gehoorlede, is ’n ode aan die landlyn, maar ook ’n storie van verbintenis. Van kleins af het ons ’n diepgewortelde behoefte om te kommunikeer en die teater is die ideale plek om dit verder te verken!

Kaartjie-inligting: Elke kaartjie gee toegang aan een volwassene (ouer/voog) en een baba of kleuter (jonger as 6 jaar). Vir elke addisionele baba of kleuter wat die vertoning bywoon, moet ‘n aparte kaartjie aangekoop word.
Voorbeeld: Een volwassene met een kind benodig een kaartjie. Een volwassene met twee kinders benodig twee kaartjies.

Bahumi and his Magical Voice

Bahumi and His Magical Voice is ’n hartroerende teaterproduksie vir jong gehore wat die seunkind en die krag van emosionele uitdrukking vier. Wanneer Bahumi ontdek dat sy stem die wêreld om hom kan verander, help hy sy vriende om te sien dat ware mannemoed in vriendelikheid, eerlikheid en dapperheid lê. Met Katleho Mabote (Showmax, Outlaws) in die hoofrol daag dit skadelike idees oor manlikheid uit en skep ’n veilige ruimte vir seuns om te praat, te voel en gehoor te word.

Moontlik gemaak deur die Vrystaat Kunstefees en Jane Mpholo PTY Ltd.

Hou die Wêreld Vas

’n Jong seuntjie moet die hele wêreld vashou! En al is hy bang, is hy bereid om alles te leer van grootword. Op hierdie kleurvolle avontuur leer hy hoe belangrik is sy verbeelding, vriendskap en om braaf te wees. Kom kyk hoe ons met die maan dans en wegkruipertjie met die sterre – en ’n reusevoël – speel. Ná die toneelstuk nooi ons almal na die verhoog om met die poppe en stel te speel!

Liewe Heksie word gescam

Liewe Heksie het ’n talentkompetisie gewen. Karel Kat probeer haar leer om mooi na haar prysgeld te kyk, maar haai oe, groot woorde soos finansies, rente en begrotings laat haar kop draai. Karel gee vir haar ’n spaarvarkie, maar die Geelheks wil die geld vat! ’n Bankrekening en kaart klink veiliger – maar dalk nie vir Liewe Heksie nie. Levinia vergeet maklik en tel is nie haar talent nie. En hoe lyk ’n “scammer”? Maats van drie tot honderd-en-drie, kom help dat haar geld groei!