Miley Cyrus se “I Can Buy Myself Flowers” het ’n kreetlied vir enkellopende vroue reg oor die wêreld geword. In dié eenvrou-komediedrama deel die eiendomsagent Natalie Jackson die op-en-af van haar verhoudings, kinders, loopbaan en vriendskappe. In haar vroeë vyftigs is sy amptelik oud genoeg vir ’n tweede of derde huwelik, jonk genoeg om nie vir apartheid geblameer te word nie en vrou genoeg vir menopouse. Natalie en haar vriendinne noem nie verniet hul WhatsApp-groep Ses-in-die-city nie! Ná jare van terapie om haar demone én die patriargie te tem is Natalie uiteindelik gereed om volgens haar eie voorwaardes te leef.
genre: Komedie
The Fool’s Guide
Hierdie fisieke teaterstuk is geskep as ’n komiese besinning oor die raakpunte tussen kontemporêre tegnologie en Die Nar, Jan Alleman en Die Onskuldige. Met die noukeurige gebruik van fisieke spel en Buckland se aanleg vir satiriese verbale tekste en vokale spel, verken die produksie hoe sosiale media – op selfone en, meer onlangs, vroeë weergawes van KI – die lewens van moderne mense beïnvloed.
Raunchy Renditions
Raunchy Renditions, Suid-Afrika se eerste seks-positiewe storieplatform, is geïnspireer deur The Moth en Bawdy Storytelling, waar vyf dapper storievertellers hul innemend ongemaklike, humoristiese en ondeunde seksuele avonture deel. Raunchy Renditions is in 2019 gestig deur Sophie Joans, Syd Strydom en Kelly Smith en het uitverkoopte vertonings regoor die land aangebied. Voel bemagtig en breek weg van die skaamte rondom seks … Geniet die gewaagde en sluit aan by ons seks-positiewe storievertelgemeenskap.
Tollie Parton (TOTTIE en nie verder nie!)
Tollie Parton is bekend as die té eerlike vriendin wat sê sy vrees niks nie. Maar is dit waar? In haar nuutste aflewering glip die waarheid onverwags uit: selfs ’n vreeslose fopdosser kan weerloos wees. Liefde het haar sag gemaak, maar hoe lank sal dit hou? En wie is die man wat haar hart gesteel het? Dalk die misterieuse Steve? Mense wonder of dit te goed is om waar te wees en of sy bloot hier is om goeie nuus te bring. Want uiteindelik kan liefde, en ’n skaaptjop, baie dinge regmaak.
Eerste vir alles
Eeue nadat hulle uit die paradys gesmyt is, besin Adam en Eva oor die huwelik: dit was nie maklik om die proto-paartjie te wees nie, hoor? Alles moes vir die eerste keer uitgepluis word: liefde, kinders en huishou. Noudat die laatlammetjie die huis verlaat, het Adam en Eva weer net mekaar vir geselskap. Na baie goed en kwaad het hulle vir oulaas ’n appeltjie met mekaar te skil. ’n Komedie oor saam ou bene maak, veral as een die ander ’n ribbebeen skuld.
’n Ko-produksie van Suidoosterfees en Vrystaat Kunstefees, moontlik gemaak deur Het Jan Marais Nationale Fonds
Evita@90
Evita Bezuidenhout word 90 en bly Suid-Afrika se bekendste wit vrou. Tannie Evita glo dat ons die verlede moet onthou om die toekoms te waardeer. As ANC-lid wat vir versoening “kook”, word Gogo Evita uitgedaag deur haar drie kleinkinders se TikTok-vrae. Sy meen ons het nie ’n kristalbal nodig om die land se toekoms te voorspel nie – ons demokrasie sal voortbestaan. Dit is juis die verlede wat, sê sy met humor, onvoorspelbaar en vol verrassings bly.
Trou is nie Perdekoop nie
Milan en Daniel is ’n jong paartjie in hul vroeë dertigs, hulle is ongetroud en is al amper drie jaar lank in ’n ernstige verhouding. Hulle werk hard, is lief vir mekaar en deel dieselfde drome. Wel, soortvan. Milan wil trou en Daniel wil nie. GAME ON! Die poppe gaan dans. Albei bring hul allerbeste; dis ’n kaalvuisgeveg. Gaan hulle opbreek? Of gaan hulle hierdie perd opsaal en besef trou is nie perdekoop nie? Kom lag (en huil) saam.
Vrou Ens. 1.2
“Hallo, Sussa. Ek hoop dit gaan goed?” “Dit gaan nie altyd so goed nie, Ma.”
Kom ontmoet vir Vanessa (Sussa) en hoor alles wat in haar gedagtegange rondloop. Sy lag dié keer vir haarself – en ook so ’n bietjie vir ander.
Lufulots, xxx
Mart Marais staan op
Wanneer Mart Marais se suinige suster besluit om kostes te bespaar en ’n goedkoop begrafnisondernemer, AVKOP, gebruik, ontspoor dinge dramaties. By die hemelpoorte daag Mart op met ’n eighties-perm so onheilig dat selfs die engele ongemaklik raak. Petrus herken haar nie en stel voor sy wag tot die perm uitgesak het voor sy weer kom aanklop. En so beland Mart – dood, maar nie stil nie – op haar eie begrafnis. Wat volg is ’n nadoodse nagmerrie.
Ms. B-haved
Met dertig jaar se onderwyservaring agter die rug word die geliefde mev. Sally Burkett nie sommer deur skandale van stryk gebring nie. Maar haar skielike skorsing ruk die klein dorpie en almal soek die ware storie! Sally het veranderende beleide, leerstyle en nuwe-era ouers trotseer – wat kon sy moontlik gedoen het, en kan sy herstel? Lag saam met Sally terwyl sy oor haar lot peins en uitpak oor wat alles gelei het tot hierdie hel van Zoom-aanlyn onderrig! Debuutregie deur Natasha Sutherland.









