btt

Ouma en die ou koeie

Soos ons ouer word, is meeste mense geneig om (gerieflikheidshalwe) sekere dinge te begin vergeet. Dis gewoonlik die goed wat ons nie WIL onthou nie. En dié wat ons WIL onthou, kry mos mettertyd allerhande “versierinkies” by. ’n Halwe waarheid in die 50’s, word 50 jaar later ’n voldonge feit. ’n Wolhaarstorie word ge“blow”dry tot ’n manjifieke “beehive” en ’n besope “one-night stand” verander jare later in ’n pragtige, kortstondige romanse.

Terug na Louis Trichardt

Terug na Louis Trichardt is ’n intieme eenpersoonkomedie wat die storie volg van ’n man op ’n busrit terug na sy tuisdorp en flambojante gay skoolvriend wat eens sy hele wêreld omgekeer het. Hy vertel van ongemaklike skoolherinneringe vol kleindorpie-chaos, verwarde liefdesstories en die ontdekking van wie hy regtig is. Die resultaat is ’n snaakse, eerlike en hartroerende blik op queer-grootword in Suid-Afrika. Dit is vol pret en nostalgie en vier die mense wat ons help word wie ons is.

CRYBABY

Op ’n gewone oggend by ’n dagsorg ontdek die driejarige Samuel die verwoestende krag van die nuus. In ’n oomblik verander hy van ’n sorgelose kind in ’n uitgeputte klein “volwassene”, oorlaai deur tragiese hoofopskrifte en die swaar lot van die mensdom. Crybaby is ’n absurde tragikomedie oor die tol van ’n geldgierige wêreld wat in duie stort. Terselfdertyd is dit ’n liefdesbrief aan mens se kinderjare en ’n skerp herinnering: grootword is nie kinderspeletjies nie.

’n Feesteforum-produksie. Moontlik gemaak deur NATi, ondersteun deur die Festival Enterprise Catalyst (FEC), in samewerking met die Jobs Fund.

Gryp elke grasHolm

Gryp na elke grashalm humor, hoop of harmonie wat jy kan kry, want die wêreld is tans deurmekaar! Ons moet maar self die komedie maak en die lag skep. Gryp elke grasHolm kan jou dalk net help in hierdie soektog na snaaks, sagtheid en sin. In haar splinternuwe eenvrouvertoning, Gryp elke grasHolm, doen Marion Holm wat sy altyd doen: komedie met baie hart.

JUSSIE SUSSIE

Aletta het na ’n ander provinsie getrek en, jussie sussie, die lewe het sommer baie verander sedert haar vorige vertoning, Effens Anders. Hierdie girl lewe kliphard en doen deesdae enigiets vir die plot. Bederf jouself met ’n kaartjie en kom kekkel saam oor al haar nuwe ervarings en absurde observasies!

Jy sal my nie glo nie

Pietman Geldenhuys vertel al stories van jongs af. Wat begin het met fabels het later ’n realiteit geword in die absurdhede wat hy in die praktyk ervaar het in ’n lewe op die pad saam met musikante en storievertellers. Hy deel van hierdie stories en die musiek wat hy daaroor geskryf het.

Beste Van Alle Tye

’n Satiriese blik op Afrikanerwees in die 21ste eeu. Koegelenberg en Van Niekerk ontleed die politiese, maatskaplike, kulturele en absurde landskappe waarin Afrikaners/Afrikaanssprekendes hulself bevind en uitleef. Van popmusiek tot piramideskemas, tafelgebede en ’n voorliefde vir aksente – niks hier is heilig (of veilig) nie. Dié produksie is ’n karatewaterkonkoksie van sketse, musiek, dans en parodieë. Beste Van Alle Tye is genomineer vir Kanna-toekennings vir Beste Aanbieding: Blitsteater en Beste Aanbieding: Komedie by die 2025 Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Beste Van Alle Tye is by die 2025 Klein Karoo Nasionale Kunstefees benoem in die kategorieë Beste Aanbieding: Blitsteater en Beste Aanbieding: Komedie, en is in 2026 met die Kanna vir Beste Aanbieding: Komedie bekroon.

Geen Diagnose

Geen Diagnose is ’n eenmanvertoning wat die terapiesessies van vyf Afrikaanse mans volg. Die vyf mans deel hul mees intieme gedagtes onder die wanindruk dat die gesprekke privaat is. Hierdie dinamiek neem egter ’n skielike wending wanneer ’n misdaad in die terapeut se spreekkamer gepleeg word. Nou word hul eens private gesprekke bewysstukke wat die terapeut met ’n speurder moet deel. Al ses karakters – die vyf mans en die terapeut – word deur Dwayne Vorster vertolk.