btt

Mei en alles daarna

Ná die wêreld se mees beskaafde egskeiding, bevind ’n ontnugterde Juna Ferreira haar in ’n klein dorpie sonder ’n plan vir haar toekoms. Wanneer sy ’n unieke litteken op ’n dorpenaar se wang herken, stuur dit haar in die teenoorgestelde rigting – ver, ver die verlede in. Sy herbesoek haar grootwordjare op die Vrystaatse goudvelde; ’n tyd wat sy as sorgvry en gelukkig onthou. Maar was dit regtig so? Hoeveel donker geheime lê vasgevang in die ruïne van die eens statige ou Limestone House?

Zelda Bezuidenhout is ’n skrywer van jeugverhale, kortverhale, radiodramas, rubrieke, reklamekopie en volwasse fiksie. Haar eerste roman vir volwassenes, Die dekonstruksie van Retta Blom, het in 2019 verskyn en haar tweede, Die waarde van stil bure, in 2021. In 2020 behaal sy en Lunéll Kruger die eerste plek in Netwerk24 se luisterdramakompetisie met Koppelkat. Sy woon op Parys in die Vrystaat.

Die Grafdigter

Mila Kozlowa is ’n Moskouse psigoterapeut wat tydens beradingsessies sit en fantaseer oor geroosterde salm en seks. Sy dink ook aan haar oud en verswakte ouma Babusja. Wat steek sy vir haar weg? Het haar ouers regtig tydens ’n ruimtereis verdwyn? Wanneer Mila ’n Suid-Afrikaner ontmoet wat sy oorlogtrauma met haar deel, begin die skeidslyn tussen werklikheid en fantasie vervaag. Waar eindig die droom en begin die realiteit? En vir hoe lank kan ’n mens jou eie leuens glo?

Gerda Taljaard is die skrywer van die romans ’n Engel in die hoenderhok, Kelder, Die laksman se dogter en Vier susters. Die laksman se dogter is met die kykNET-Rapport-filmprys vereer; Vier susters is bekroon met die kykNET-Rapport-fiksieprys en die ATKV-Woordveertjie vir prosa. Haar gedigte en kortverhale verskyn in verskeie publikasies en sy is met die Litera- en De Compagnie-prys vir beste kortverhaal bekroon. Sy woon in Pretoria.

Die Moord op Liezel de Jager

Op 13 Oktober 2021 is Suid-Afrika tot stilstand geruk deur die nuus dat dominee Liezel de Jager, geliefde leraar van die NG-Kerk Suidkus in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal, in die oprit van die pastorie vermoor is. Van die vreemde gebeure wat volg in die dae en jare daarna, Liezel se ouers se volgehoue stryd om geregtigheid en die arrestasie van haar man wat onder misterieuse omstandighede in die hospitaal sterf, word hierin oopgeskryf. Die moord bly onopgelos.

Anena Burger is reeds 15 jaar ’n joernalis en is sedert 2020 Netwerk24 se senior joernalis in die Noord-Kaap. Sy het stories gedek soos die opspraakwekkende Pofadder-moord op Leon Brits, die Hartswaterdriedubbele plaasmoorde, die Kalahari-tragedie en vele ander wat die land die afgelope paar jaar geruk het.

Die Tyd van Verwoerd

Die Tyd van Verwoerd poog nie om apartheid of dr. Hendrik Verwoerd (1901–1960) te regverdig of te veroordeel nie, maar om dit eerlik te beskryf en te kontekstualiseer. LJ Bothma volg die geskiedenis van Jan van Riebeeck tot die 1948-verkiesing en daarna. Hy beeld die opkoms van die Nasionale Party uit as ’n skaakspel tussen botsende ideale met Verwoerd sentraal daarin. Die spanning bereik ’n hoogtepunt tydens Sharpeville in 1960, waarna die verloop dramaties toeneem.

LJ Bothma is ’n Suid-Afrikaanse skrywer en onafhanklike uitgewer wat spesialiseer in militêre geskiedenis, veral die Suid-Afrikaanse Grensoorlog en weermagervarings. Sy werk, bekend vir deeglike navorsing en eerstehandse vertellings, bied insig in soldate se belewenisse en historiese konteks. Hy publiseer onder meer ook Die Buffel Struikel.

101 Remarkable South African Women

101 Remarkable South African Women bring vir die eerste keer 101 buitengewone vroue byeen wat die land se verlede en hede gevorm het. Van die prehistoriese Eva van die Weskus en Krotoa tot Olive Schreiner, Miriam Makeba, Thuli Madonsela en Tyla, strek hul verhale oor eeue van geskiedenis, politiek, kuns, musiek, sport en aktivisme. Hierdie inspirerende en toeganklike boek vier ons voormoeders en plaas ook die kollig op hedendaagse rolmodelle wat te dikwels uit die geskiedskrywing weggelaat word.

Lizette Rabe, emeritus professor in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch (US), is ’n voormalige tydskrifredakteur met meer as twintig jaar se bedryfservaring, ’n PhD en ’n lang akademiese loopbaan as hoof van US se departement joernalistiek. Sy het verskeie belangrike werke oor die Suid-Afrikaanse media geskryf en geredigeer en het talle toonaangewende toekennings vir onderrig en navorsing ontvang, insluitend die Kanselierstoekenning en die Stalsprys.

Aan die hemeltrans

Die duiwel is hierdie jaar los by die klooster van die heilige sint William, Beskermheilige van die Metaversum. Die klooster, geleë in die eens vrugbare mieliedriehoek in die Vrystaat, bied jaarliks ’n passiespel aan waarop hulle alle hoop om oorlewing vestig. JC van Schouwenburg, wat die hoofrol vertolk, het egter onverklaarbaar verdwyn. Dapper de Wet, roosteler, gourmand en deurwinterde loodswaaier, is desperaat om hom op te spoor, maar ’n ontwykende moederowerste, onbehulpsame personeel en ’n beeldskone onderwyser kompliseer sy lewe.

Anton Roodt het ’n MA in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Hy is ’n professionele argitek en het verskeie toekennings vir sy firma se werk ontvang. Hy is ook ’n visuele kunstenaar. Sy debuutroman, Weerlose meganika, is met die Jan Rabie-Rapportprys bekroon. Hy en sy vrou, Zarine, woon in Bloemfontein.

Bethulie

“Ons is so maer dat ons nie in staat is om ons werk behoorlik te doen nie. Rus-rus moet ons die ou klein tentjies aan die kant maak.” – Uit die dagboek van Rensche van der Walt.

Die Anglo-Boereoorlog het reeds 18 maande geduur toe Rensche van der Walt en haar gesin deur Britse soldate van hul plaas naby Reddersburg verwyder is. Op 23 het sy in die Bethulie-konsentrasiekamp aangekom en begin dagboek hou. Haar eerlike stem beskryf die harde daaglikse lewe tussen die tente: wanvoeding, siekte, oorbevolking en blootstelling aan die elemente. Dié kamp se hoë sterftesyfer kry besondere betekenis deur haar feitlik daaglikse aantekeninge oor die dood van geliefdes en kennisse.

Rensche van der Walt is in April 1901 na die Bethulie-konsentrasiekamp gestuur saam met haar ma en drie susters. Twee van haar broers was op kommando, maar is later gevange geneem. Die hele gesin het die oorlog op wonderbaarlike wyse oorleef.

Bitterkomix Sketchbooks and Journals

In wiskunde beteken “wys jou werk” om te toon hoe ’n oplossing bereik is – ’n idee wat sentraal is in Bitterkomix Sketchbooks and Journals, ’n persoonlike versameling deur Conrad Botes en Anton Kannemeyer. Die bundel onthul hul kreatiewe proses agter die bekende satiriese strokiesprent Bitterkomix. Dit is in drie afdelings verdeel en bevat ’n keur uit sowat 120 sketse, van hul skooldae tot hul loopbane as kunstenaars. Die versameling wys hul ontwikkeling, probleemoplossing en die oorsprong van dekades se uitdagende werk.

Anton Kannemeyer verwerf in 1997 ’n MA in Beeldende Kunste en doseer tot 2006. Hy het wyd internasionaal uitgestal en word deur galerye in groot wêreldstede verteenwoordig. Sy werk is gepubliseer en in versamelings soos die MoMA opgeneem. Pappa in Afrika wen in 2015 ’n internasionale toekenning.

Conrad Botes verwerf ’n diploma in Den Haag en ’n MA aan Stellenbosch. Hy stal sedert die 1990’s internasionaal uit, met solo- en belangrike groepuitstallings wêreldwyd. Sy strokiesprente is internasionaal gepubliseer. Sy jongste versameling, Les Pays de Judas, verskyn in 2023 in Frankryk.

Daardie Lewe: Karel Schoeman

Karel Schoeman is een van Suid-Afrika se belangrikste skrywers, bekend vir die gehalte en omvang van sy werk oor verskeie genres. In Daardie lewe gebruik Ria Winters nuwe bronne uit argiewe, koerante en korrespondensie om sy lewe en werk te belig. Sy ondersoek ook sy outobiografiese skryfwerk en boeke, en vul die laaste jare ná Die laaste Afrikaanse boek aan. Die biografie plaas sy lewe binne die Suid-Afrikaanse geskiedenis en sluit foto’s, eindnotas en ’n bronnelys in.

Die Nederlandse historikus Ria Winters is verbonde aan die Universiteit van Amsterdam en bly in Amersfoort. Deur haar korrespondensie met Schoeman van April 2014 tot 1 Mei 2017 het haar belangstelling in sy werk en die Afrikaanse taal en letterkunde begin. Daardie lewe is Winters se tweede boek oor Schoeman. Die eerste was Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer (Protea Boekhuis, 2020).

Dharma-dwaas in Doodloopstraat

Die verhaal volg weer Biko April, wat drie dae het om blyplek te vind – platsak en sonder plan. Tydens hierdie krisis ontmoet hy by ’n kunsuitstalling ’n Joodse meisie wat sy lewe verander. In die vroeë 2000’s in Kaapstad, te midde van PAGAD-bomme en spanning, ontvou ’n onvoorspelbare liefdesverhaal wat hoop bring. In Dharma-dwaas in Doodloopstraat bou Septembir voort op sy debuut en meng literêre fiksie met satire, erotiek en spiritualiteit en verken begeerte, identiteit, geloof en waarheid.

Sjaka Septembir is al drie dekades lank ’n skrywer, digter, akteur en regisseur, bekend vir grensverskuiwende werk wat literatuur en teater meng. Sy debuutroman het sterk reaksie ontlok en is deur kritici hoog geprys. Met Dharma-dwaas in Doodloopstraat bevestig hy weer sy plek as ’n unieke en uitdagende stem in die Afrikaanse letterkunde.