btt

The End of Normal

Vroeg 1976, terwyl wit Suid-Afrikaners op ABBA se “Dancing Queen” gedans het, het die Soweto-opstand van 16 Junie die einde van normaliteit gebring. As jong verslaggewer het Max du Preez daardie oggend die eerste klippe en skote aanskou. Dit was ook die einde van sy normaal. Hy is grootgemaak in ’n konserwatiewe Afrikaner-Christelik-Nasionalistiese gesin en het daardie opvoeding begin bevraagteken. In The End of Normal besin hy oor apartheid se wortels, 16 Junie se blywende impak en hoe gewone mense onreg ondersteun het.

Max du Preez is ’n Suid-Afrikaanse skrywer, rubriekskrywer en dokumentêre filmmaker en was die stigtingsredakteur van Vrye Weekblad. Vrye Weekblad Online is op 5 April 2019 bekendgestel, weer met Du Preez as redakteur. Hy is die ontvanger van talle toekennings vir sy joernalistiek. Dit is sy elfde boek.

The Shadow State

Op 23 Augustus 2021 is ’n stil, hardwerkende enkelma doodgeskiet terwyl sy huis toe gery het. Haar naam was Babita Deokaran, hoofrekenmeester by die Gautengse Departement van Gesondheid. Die izinkabi wat betaal is om haar te vermoor, is aangekeer, maar wie het die opdrag gegee – en waarom? Misdaadverslaggewer Jeff Wicks se soektog na antwoorde sou sy lewe ingrypend verander en selfs in gevaar stel. Hierdie is ’n plofbare ondersoek na staatskaping en ’n roerende huldeblyk aan die prys van integriteit.

Jeff Wicks is ’n Johannesburg-gebaseerde ondersoekende joernalis by News24. Oor bykans twee dekades het hy op georganiseerde misdaad en geteikende moorde gefokus en ondersoeke gelei na die moorde op Charl Kinnear en Babita Deokaran. As tweemalige wenner van die Taco Kuiper-toekenning vir ondersoekende joernalisme, het hy in 2024 die Nat Nakasa-toekenning vir dapper joernalisme ontvang en is hy mede-outeur van die blitsverkoper Eight Days in July.

Mei en alles daarna

Ná die wêreld se mees beskaafde egskeiding, bevind ’n ontnugterde Juna Ferreira haar in ’n klein dorpie sonder ’n plan vir haar toekoms. Wanneer sy ’n unieke litteken op ’n dorpenaar se wang herken, stuur dit haar in die teenoorgestelde rigting – ver, ver die verlede in. Sy herbesoek haar grootwordjare op die Vrystaatse goudvelde; ’n tyd wat sy as sorgvry en gelukkig onthou. Maar was dit regtig so? Hoeveel donker geheime lê vasgevang in die ruïne van die eens statige ou Limestone House?

Zelda Bezuidenhout is ’n skrywer van jeugverhale, kortverhale, radiodramas, rubrieke, reklamekopie en volwasse fiksie. Haar eerste roman vir volwassenes, Die dekonstruksie van Retta Blom, het in 2019 verskyn en haar tweede, Die waarde van stil bure, in 2021. In 2020 behaal sy en Lunéll Kruger die eerste plek in Netwerk24 se luisterdramakompetisie met Koppelkat. Sy woon op Parys in die Vrystaat.

Die Grafdigter

Mila Kozlowa is ’n Moskouse psigoterapeut wat tydens beradingsessies sit en fantaseer oor geroosterde salm en seks. Sy dink ook aan haar oud en verswakte ouma Babusja. Wat steek sy vir haar weg? Het haar ouers regtig tydens ’n ruimtereis verdwyn? Wanneer Mila ’n Suid-Afrikaner ontmoet wat sy oorlogtrauma met haar deel, begin die skeidslyn tussen werklikheid en fantasie vervaag. Waar eindig die droom en begin die realiteit? En vir hoe lank kan ’n mens jou eie leuens glo?

Gerda Taljaard is die skrywer van die romans ’n Engel in die hoenderhok, Kelder, Die laksman se dogter en Vier susters. Die laksman se dogter is met die kykNET-Rapport-filmprys vereer; Vier susters is bekroon met die kykNET-Rapport-fiksieprys en die ATKV-Woordveertjie vir prosa. Haar gedigte en kortverhale verskyn in verskeie publikasies en sy is met die Litera- en De Compagnie-prys vir beste kortverhaal bekroon. Sy woon in Pretoria.

Die Moord op Liezel de Jager

Op 13 Oktober 2021 is Suid-Afrika tot stilstand geruk deur die nuus dat dominee Liezel de Jager, geliefde leraar van die NG-Kerk Suidkus in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal, in die oprit van die pastorie vermoor is. Van die vreemde gebeure wat volg in die dae en jare daarna, Liezel se ouers se volgehoue stryd om geregtigheid en die arrestasie van haar man wat onder misterieuse omstandighede in die hospitaal sterf, word hierin oopgeskryf. Die moord bly onopgelos.

Anena Burger is reeds 15 jaar ’n joernalis en is sedert 2020 Netwerk24 se senior joernalis in die Noord-Kaap. Sy het stories gedek soos die opspraakwekkende Pofadder-moord op Leon Brits, die Hartswaterdriedubbele plaasmoorde, die Kalahari-tragedie en vele ander wat die land die afgelope paar jaar geruk het.

Die Tyd van Verwoerd

Die Tyd van Verwoerd poog nie om apartheid of dr. Hendrik Verwoerd (1901–1960) te regverdig of te veroordeel nie, maar om dit eerlik te beskryf en te kontekstualiseer. LJ Bothma volg die geskiedenis van Jan van Riebeeck tot die 1948-verkiesing en daarna. Hy beeld die opkoms van die Nasionale Party uit as ’n skaakspel tussen botsende ideale met Verwoerd sentraal daarin. Die spanning bereik ’n hoogtepunt tydens Sharpeville in 1960, waarna die verloop dramaties toeneem.

LJ Bothma is ’n Suid-Afrikaanse skrywer en onafhanklike uitgewer wat spesialiseer in militêre geskiedenis, veral die Suid-Afrikaanse Grensoorlog en weermagervarings. Sy werk, bekend vir deeglike navorsing en eerstehandse vertellings, bied insig in soldate se belewenisse en historiese konteks. Hy publiseer onder meer ook Die Buffel Struikel.

Einde en Begin

By ’n sendingstasie in die voormalige Rhodesië beleef die kind Marié die wêreld met verwondering en humor; en namate sy ouer word met toenemende ontnugtering. Daar is die onderliggende politieke spanning van die 1970’s, waarvan sy net vaagweg bewus is, en die geboorte van haar boetie wat haar dwing om die rol aan te neem van ’n meisie wat eendag ’n vrou sal word. Wanneer Marié en ’n vriend ’n omstrede dokument onder oë kry, begin haar kinderlike illusies verder verbrokkel.

Michèle Meyer is ’n skrywer van romans, kortverhale en rubrieke. Haar kortverhaal “Langsaan” het die Woordfees se kortverhaalkompetisie in 2017 gewen en is tot kortfilm verwerk wat by die Silwerskermfees vertoon is. In 2022 is haar debuutroman Moer gepubliseer. Sy woon in Pretoria.

Herskrywing, representasie en intermediasie

Ons leef in ’n tyd van herskrywing waar boeke “gelees” word en rolprente en dramas “gekyk” word deur resensies te raadpleeg. Romans en selfs kortverhale word dikwels intermediaal herskryf of “vertaal” as dramas of films. Herskrywing geskied nooit neutraal nie en is afhanklik van die historiese, ideologiese, sosiale en literêre konteks waarbinne dit opnuut gerepresenteer word. Hierdie boek, Herskrywing, representasie en intermediasie is ’n teoretiese, historiese en praktiese besinning op, en illustrasie van hierdie prosesse.

Hennie van Coller is ’n professor in Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n hoogs gerespekteerde letterkundige. As kritikus, redakteur en digter is hy veral bekend vir Perspektief en profiel. Oor dekades het hy deur navorsing, publikasies en resensies ’n groot bydrae gelewer en is hy met verskeie toekennings, insluitend die Jan H Maraisprys, bekroon.

Anthea van Jaarsveld het drama aan die UV studeer en was daarna dramadosent by Eunice Girls’ School. Daarna was sy ’n dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands waar sy op die dramagenre in Afrikaans gefokus het en dus nooit die wêreld van drama en teater verlaat het nie.

Historiese Almanak

Albé Grobbelaar is ’n ervare radioman en joernalis wat oor dekades ’n kenmerkende styl van geskiedvertelling ontwikkel het. Hierdie bondige geskiedenisflitse in Historiese Almanak bied verrassende, fassinerende insigte. Dit is ’n keur van sy radiopraatjies en koerantrubrieke en is gegrond in ’n lewenslange belangstelling in die verlede sedert sy eerste program in Februarie 1982. Elke vertelling is ’n klein ontdekking: boeiend, toeganklik en ryk aan besonderhede. Die tekste is noukeurig gekies en getuig van deeglike navorsing en vertelvernuf, deurgaans aanskoulik.

Albé Grobbelaar is ’n ervare radioman, joernalis en skrywer met ’n besondere belangstelling in geskiedenis. Hy is veral bekend vir sy historiese radiopraatjies en koerantrubrieke waarin hy interessante gebeurtenisse en verhale uit die verlede toeganklik en boeiend vertel, met ’n lojale aanhang onder luisteraars en lesers het.

Klawer

Musikante is reisigers, avonturiers, altyd op pad na onbekende bestemmings, na nuwe plekke en nuwe mense. Dis ’n avontuur, ’n ontdekking vol verrassings en verwonderings. ’n Avontuur is egter nie net ’n fisiese reis nie, maar ook ’n innerlike reis van groei en selfontdekking. Hierdie bundel kortverhale oor van die plekke in Suid-Afrika waar Rocco de Villiers al opgetree het, bied ’n anderste reis deur ons land… een waarin hy vertel van sy ervarings en avonture in sommige van sy konsertbestemmings.

Rocco de Villiers (1965) is op Harrismith in die Vrystaat gebore. Hy is ‘n pianis, vermaaklikheidskunstenaar, komponis en skrywer wat in Kaapstad woon. Jaarliks bied hy meer as honderd vertonings reg oor Suid-Afrika.