btt

Hartsbriewe

Maak gereed vir ’n nostalgiese reis gevul met warmte en liefde in al sy vorme. Coenraad Rall se klavierklanke herinner jou aan vervloë tye, terwyl Hannes van Wyk ’n keur van intieme briewe, wat soos geheime bewaar is, deel. Hierdie hartsbriewe – soms snaaks, soms hartseer, altyd opreg – vertel van verlore liefdes, familieherinneringe en eenvoudige vreugdes. Hartsbriewe is ’n huldeblyk aan dit wat ons harte raak, met stories, humor, ’n traan of twee, en ’n blywende gevoel van troos.

Free State Jazz Series

Die 2026 Vrystaat Jazz-reeks verenig toonaangewende Suid-Afrikaanse musikante soos Siya Makuzeni, Abraham Mennen, Sphelelo Mazibuko, Sanele Phakati en Dalisu Ndlazi. Die optredes plaas die klem op improvisasie en samewerking en vind plaas in die intieme, tydelike Jazz Lounge by die Wynand Mouton-teater. Die program weerspieël die diepte van Suid-Afrika se jazz-erfenis en die ontwikkelende kontemporêre vorme daarvan. Dit beklemtoon die genre as belangrik en dinamies in die kultuurlandskap en bevestig die Instituut se toewyding om gehore uit te brei en ’n volhoubare plaaslike jazz-kultuur te ondersteun.

Aangebied deur The International Institute of the Arts at the University of the Free State.

Rocco de Villiers, KLAWER

Met sy geliefde klaviertreffers, oud én nuut, en die bekendstelling van sy nuwe boek, KLAWER, neem Rocco de Villiers die gehoor op ’n reis deur die klein, kleiner en kleinste dorpies van Suid-Afrika. Hierdie konsert is meer as net musiek – dit is Rocco se dankbare geskenk aan die hart van die land: sy dorpe, sy stories, sy mense. ’n Intieme feesviering van musiek, herinnering en inspirasie – saam met Hansie Roodt op kitaar en bastrom.

MUSICAL MOMENTS

’n Aand van die mooiste treffers oor alle tye uit musiekblyspele soos Les Misérables, Chess, Phantom of the Opera, Sound of Music en vele meer. Daar word ook ander persoonlike gunstelinge in die program verweef. Die begeleiding word behartig deur Anton Esterhuyse op die klavier en die virtuoos Sharon de Kock op die viool

Private Presley

’n Vertelling van Elvis Presley se lewe waarin sy mees bekende treffers gevier word, met dansers van Mzansi Ballet en sangers Frederick Fourie en Patience Mahema. Ballet en rock-’n-roll word gemeng in hierdie ballet wat die kompleksiteite van Presley se persoonlike lewe ondersoek, met verwysing na sy militêre diens, wat in die titel Private Presley weerklink, en sy hegte verhoudings met veral die vroue wat sy lewe en musiek sterk beïnvloed het.

Vivaldi en die Vondeling – Die uitsonderlike lewe van Anna Maria della Pietà

Anna Maria della Pietà was Venesië se wonderkind. Reeds op agt was sy ’n begaafde violis en komponis, en op twaalf die jongste eerste violis van die Ospedale della Pietà se kloosterorkes. As vondeling, kind van ’n prostituut, het sy ’n kwesbare begin oorleef. Haar leermeester was die briljante, eksentrieke Antonio Vivaldi, wat 28 vioolkonserte aan haar opgedra het. Hierdie meesterwerk vertel van haar merkwaardige groei tot gesogte Maestra di violino en Maestra di coro.

Wat om te doen as die wêreld brand

Die wêreld is aan die brand, maar die engel/orakel/demi-godin wat die kliëntedienssentrum van die kosmos eiehandig beman, is uitgebrand en het haarself afgeboek. Die groot oor van die heelal is geheel en al oor dit. Wie gaan nou na die mensdom se gesanik luister, raad gee oor verhoudings en vure doodslaan waar hulle dreig om verwoesting te saai?

HOORT

Hierdie semi-outobiografiese kabaret laat jou lag, huil en met nuwe oë na jou eie verhaal kyk. Stephanie, die dogter van twee pastore, soek haar plek in die wêreld te midde van haar gemengde agtergrond en ons komplekse geskiedenis. Met humor, patos en ‘n lewendige mengsel musiek kom sy tot die besef: Om in te pas is een ding, maar om te behoort is iets heeltemal anders. Hoort is bekroon met die Stellenbosch Woordtrofee vir Uitsonderlike Bydrae tot Kontemporêre Musiek: Klein Groepe.

Jak de Priester – Van Sally tot Somerset-Wes

In 2001 skryf Jak de Priester sy eerste groot treffer, “Sally Williams Nougat”, die treffer wat die begin van ’n merkwaardige loopbaan sou afskop. ’n Jaar later wen hy ATKV-Crescendo en stel hy sy debuutalbum bekend. Nou, 25 jaar later, kyk hy terug op ’n reis vol musiek en stories. Hierdie mylpaal word gevier met ’n konsert vol geliefde liedjies en die bekendstelling van sy boek, Jak de Priester – Van Sally tot Somerset-Wes, ’n huldeblyk aan sy indrukwekkende Afrikaanse musiekloopbaan.

Jou Ma Se Platespeler

In Jou Ma Se Platespeler kyk ons na Afrikaanse musiek deur die oë van die nederige platespeler, teen die agtergrond van veranderende musiektegnologie en die veranderinge in ons land wat ’n nuwe stem aan Afrikaanse kunstenaars gegee het. Al die treffers sedert 1930 – jou ouma se plate, jou pa se kassette, jou klasmaat se CD’s, jou kind se Spotify-speellys … dis alles hier.