Soos ons ouer word, is meeste mense geneig om (gerieflikheidshalwe) sekere dinge te begin vergeet. Dis gewoonlik die goed wat ons nie WIL onthou nie. En dié wat ons WIL onthou, kry mos mettertyd allerhande “versierinkies” by. ’n Halwe waarheid in die 50’s, word 50 jaar later ’n voldonge feit. ’n Wolhaarstorie word ge“blow”dry tot ’n manjifieke “beehive” en ’n besope “one-night stand” verander jare later in ’n pragtige, kortstondige romanse.
Location: OFM Odeion
Vivaldi en die Vondeling – Die uitsonderlike lewe van Anna Maria della Pietà
Anna Maria della Pietà was Venesië se wonderkind. Reeds op agt was sy ’n begaafde violis en komponis, en op twaalf die jongste eerste violis van die Ospedale della Pietà se kloosterorkes. As vondeling, kind van ’n prostituut, het sy ’n kwesbare begin oorleef. Haar leermeester was die briljante, eksentrieke Antonio Vivaldi, wat 28 vioolkonserte aan haar opgedra het. Hierdie meesterwerk vertel van haar merkwaardige groei tot gesogte Maestra di violino en Maestra di coro.
Wat om te doen as die wêreld brand
Die wêreld is aan die brand, maar die engel/orakel/demi-godin wat die kliëntedienssentrum van die kosmos eiehandig beman, is uitgebrand en het haarself afgeboek. Die groot oor van die heelal is geheel en al oor dit. Wie gaan nou na die mensdom se gesanik luister, raad gee oor verhoudings en vure doodslaan waar hulle dreig om verwoesting te saai?
Jak de Priester – Van Sally tot Somerset-Wes
In 2001 skryf Jak de Priester sy eerste groot treffer, “Sally Williams Nougat”, die treffer wat die begin van ’n merkwaardige loopbaan sou afskop. ’n Jaar later wen hy ATKV-Crescendo en stel hy sy debuutalbum bekend. Nou, 25 jaar later, kyk hy terug op ’n reis vol musiek en stories. Hierdie mylpaal word gevier met ’n konsert vol geliefde liedjies en die bekendstelling van sy boek, Jak de Priester – Van Sally tot Somerset-Wes, ’n huldeblyk aan sy indrukwekkende Afrikaanse musiekloopbaan.
Jou Ma Se Platespeler
In Jou Ma Se Platespeler kyk ons na Afrikaanse musiek deur die oë van die nederige platespeler, teen die agtergrond van veranderende musiektegnologie en die veranderinge in ons land wat ’n nuwe stem aan Afrikaanse kunstenaars gegee het. Al die treffers sedert 1930 – jou ouma se plate, jou pa se kassette, jou klasmaat se CD’s, jou kind se Spotify-speellys … dis alles hier.
Jy sal my nie glo nie
Pietman Geldenhuys vertel al stories van jongs af. Wat begin het met fabels het later ’n realiteit geword in die absurdhede wat hy in die praktyk ervaar het in ’n lewe op die pad saam met musikante en storievertellers. Hy deel van hierdie stories en die musiek wat hy daaroor geskryf het.
Kombuisliedjies: Jacobus Silwer
Die kombuistafel het ’n aura: hierdie bymekaarkompunt van siele wat soms vir ‘n oomblik sy spasie deel – verteltafel, singtafel, lagtafel, bakleitafel. Jacobus Silwer gaan op ’n ontdekkingsreis vanaf sy eie grootwordkombuis na die kombuistafels van uiteenlopende karakters uit verskillende wêrelddele. ‘n Unieke mengsel van musiek, prosa en poësie wat jy dalk nooit weer bymekaar in een vertoning gaan beleef nie!
Die Siel van Eugène Marais
’n Nuwe blik op ’n literêre reus: Die Siel van Eugène Marais verbeeld Marais as mens én digter – briljant, gebroke en voortdurend op soek na betekenis. Met literêre teks, musiek, visuele effekte en metamorfoseteater plaas die produksie sy stryd, verlange en nalatenskap sentraal sodat dit vandag relevant en emosioneel herkenbaar is.
Here Comes the Sun
Ensemble Masana is in 2023 gestig deur Mareli Stolp (klavier), Rikus Coetsee (saxofoon) en Handri Loots (fluit). Al drie is ervare kamermusikante en tree gereeld regoor Suid-Afrika en internasionaal op. Dié trio se gesamentlike musikale reis is Ensemble Masana, die Tsonga-woord vir “sonskyn”. Hulle bied ’n gevarieerde program van musiek deur Franse, Amerikaanse, Britse en Suid-Afrikaanse komponiste aan, wat die wye spektrum van moontlikhede vir al drie instrumente in duet-, solo- en trioformaat uitlig.
HOORT
Hierdie semi-outobiografiese kabaret laat jou lag, huil en met nuwe oë na jou eie verhaal kyk. Stephanie, die dogter van twee pastore, soek haar plek in die wêreld te midde van haar gemengde agtergrond en ons komplekse geskiedenis. Met humor, patos en ‘n lewendige mengsel musiek kom sy tot die besef: Om in te pas is een ding, maar om te behoort is iets heeltemal anders. Hoort is bekroon met die Stellenbosch Woordtrofee vir Uitsonderlike Bydrae tot Kontemporêre Musiek: Klein Groepe.









