btt

Suiker

Suiker (1958) van Hugo Claus is een van sy beste en veelbekroonde dramas, waarin taal, naturalisme, melodrama en humor meesterlik saamvloei. In ’n suikerfabriek in Noord-Frankryk wag vyf Vlaamse gasarbeiders op die einde van die seisoen. ’n Driehoekverhouding tussen die geslepe Max, die naïewe Kilo en Malou, ’n jong vrou, ontvou binne ’n paar dae tot ’n klimaks. Die verhaal simboliseer paradysverlies en die verganklikheid van drome, die enigste manier om die harde werklikheid te verduur.

HP (Hennie) van Coller is uitstaande professor (emeritus) en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is die skrywer en redakteur van talle publikasies, waaronder die alombekende Perspektief en profiel. ’n Literatuurgeskiedenis (2016) en Etienne Leroux: Die rumoerige swart nar’n Huldiging (2023). Hy is veelvuldig bekroon met onder meer die Gustav Preller-prys vir literatuurwetenskap, die Jan H Marais-prys en die NP van Wyk Louw-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Rebekka van Kameeldoornplaas

Tussen oorloë en wêrelde volg die verhaal van Rebekka, ’n kampkind van die Anglo-Boereoorlog wat as arm bywoner op Kameeldoornplaas grootword. Skrander en lief vir leer, word sy gedwing om skool te verlaat en uiteindelik aan die Wright-gesin “verkoop”. In Oxford vind sy haar voete as kinderoppasser, met nuwe kennis en vriendskappe wat haar wêreld verbreed. Maar oorlog dreig weer, en Rebekka worstel met haar identiteit – tussen Boer en Brit, plaas en herehuis.

Irma Joubert is ’n oudonderwyser, spesialis joernalis en ongetwyfeld die doyenne van Suid Afrikaanse historiese fiksie. Haar boeke, soos die Tussen stasies-, die Pontenilo– en die Oorlogs-trilogieë, is almal plaaslike topverkopers en is in Engels, Nederlands en Duits vertaal en wêreldwyd gepubliseer. Irma bly in die Kaap, maar reis nog graag om navorsing vir haar boeke te doen.

The Daisy Spy Ring

In hierdie oorspronklike en unieke verhaal bied Henning van Aswegen, ’n voormalige dosent aan Suid-Afrika se Nasionale Intelligensie-akademie en die historikus Peter M Swanepoel ’n diepgaande analitiese weergawe van Suid-Afrika se intelligensiedienste en spioenasie-operasies. In die 1970’s en 1980’s het die Daisy Spioenasiering verslag gedoen oor die strawwe kompetisie tussen Moskou en liberale, sosio-demokratiese Westerse regerings om “die rewolusie vas te vang”. Dis ’n verhaal wat veertig jaar lank geheim was en nooit tevore vertel is nie. Tot nou toe.

Henning van Aswegen is in Bloemfontein gebore en het as ’n offisier in die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) en Suid-Afrika se burgerlike intelligensiedienste gedien. As student aan die Potchefstroomse Universiteit het hy as korrespondent vir die Suid-Afrikaanse Geassosieerde Koerante (SAAN) gewerk en later by die Perskor-groep as ’n politieke korrespondent. Hy is ’n intelligensiehistorikus en skrywer, bekend vir sy boeke en artikels oor die Suid-Afrikaanse burgerlike intelligensiedienste.

Peter M Swanepoel is in Vryheid gebore. Hy het politieke wetenskap, filosofie en historiese studies aan die Universiteit van Johannesburg gestudeer. Hy het later nagraadse studies in intelligensie en internasionale betrekkinge aan King’s College London gevolg. Sy akademiese artikel, “The International University Exchange Fund (1977-1980)” (2016), het The Daisy Spy Ring geïnspireer. Hy doen nou navorsing oor en skryf oor die geskiedenis van fietsry in Suid-Afrika.

The Dark Prince

Nadat hy skandaal, kontroversie en die Zuma-jare oorleef het, het Paul Mashatile deur die geledere tot by die drumpel van die presidentskap gestyg. Oor ’n politieke loopbaan van dertig jaar het hy suksesvol die korrupsie en faksievorming waarvoor die ANC bekend geword het, genavigeer. Nou wil hy beheer neem oor die party – en die Uniegebou. Die vraag is: Moet hy? Is Paul Mashatile geskik vir die hoogste amp?

Pieter du Toit is die outeur van die topverkoperboeke Die Stellenbosch Mafia en The ANC Billionaires. Hy is die adjunkredakteur van News24.com.

The End of Normal

Vroeg 1976, terwyl wit Suid-Afrikaners op ABBA se “Dancing Queen” gedans het, het die Soweto-opstand van 16 Junie die einde van normaliteit gebring. As jong verslaggewer het Max du Preez daardie oggend die eerste klippe en skote aanskou. Dit was ook die einde van sy normaal. Hy is grootgemaak in ’n konserwatiewe Afrikaner-Christelik-Nasionalistiese gesin en het daardie opvoeding begin bevraagteken. In The End of Normal besin hy oor apartheid se wortels, 16 Junie se blywende impak en hoe gewone mense onreg ondersteun het.

Max du Preez is ’n Suid-Afrikaanse skrywer, rubriekskrywer en dokumentêre filmmaker en was die stigtingsredakteur van Vrye Weekblad. Vrye Weekblad Online is op 5 April 2019 bekendgestel, weer met Du Preez as redakteur. Hy is die ontvanger van talle toekennings vir sy joernalistiek. Dit is sy elfde boek.

The Shadow State

Op 23 Augustus 2021 is ’n stil, hardwerkende enkelma doodgeskiet terwyl sy huis toe gery het. Haar naam was Babita Deokaran, hoofrekenmeester by die Gautengse Departement van Gesondheid. Die izinkabi wat betaal is om haar te vermoor, is aangekeer, maar wie het die opdrag gegee – en waarom? Misdaadverslaggewer Jeff Wicks se soektog na antwoorde sou sy lewe ingrypend verander en selfs in gevaar stel. Hierdie is ’n plofbare ondersoek na staatskaping en ’n roerende huldeblyk aan die prys van integriteit.

Jeff Wicks is ’n Johannesburg-gebaseerde ondersoekende joernalis by News24. Oor bykans twee dekades het hy op georganiseerde misdaad en geteikende moorde gefokus en ondersoeke gelei na die moorde op Charl Kinnear en Babita Deokaran. As tweemalige wenner van die Taco Kuiper-toekenning vir ondersoekende joernalisme, het hy in 2024 die Nat Nakasa-toekenning vir dapper joernalisme ontvang en is hy mede-outeur van die blitsverkoper Eight Days in July.

Klawer

Musikante is reisigers, avonturiers, altyd op pad na onbekende bestemmings, na nuwe plekke en nuwe mense. Dis ’n avontuur, ’n ontdekking vol verrassings en verwonderings. ’n Avontuur is egter nie net ’n fisiese reis nie, maar ook ’n innerlike reis van groei en selfontdekking. Hierdie bundel kortverhale oor van die plekke in Suid-Afrika waar Rocco de Villiers al opgetree het, bied ’n anderste reis deur ons land… een waarin hy vertel van sy ervarings en avonture in sommige van sy konsertbestemmings.

Rocco de Villiers (1965) is op Harrismith in die Vrystaat gebore. Hy is ‘n pianis, vermaaklikheidskunstenaar, komponis en skrywer wat in Kaapstad woon. Jaarliks bied hy meer as honderd vertonings reg oor Suid-Afrika.

Klein Konings

Min weet die staatsamptenare Pixley en Joubert wat op hulle wag wanneer ’n minister hulle opdrag gee om apartheid en koloniale monumente regoor die land te ondersoek en te verwyder. Terwyl hulle op reis gaan om hierdie belaaide geskiedenis te evalueer, raak hulle ook vasgevang in hul eie persoonlike stories. Familie, liefde en selfs die bonatuurlike begin inmeng en soos geheime na vore kom, raak die vrae oor verlede en erfenis net al hoe ingewikkelder.

Theo Kemp het sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy was voorheen betrokke by verskeie projekte in die kunste in sy rol as, onder meer, projekbestuurder van die Woordfees, reklamekoördineerder by NB-uitgewers, programbestuurder van die KKNK asook die Vrystaat Literatuurfees en as uitvoerende bestuurder van die Breytenbach Sentrum op Wellington.

Klip Koud (Bare Bones)

Nicole Engelbrecht gesels oor haar ware misdaadboeke Klip Koud en Bare Bones, waarin sy van Suid Afrika se mees ontstellende misdaadsake ondersoek. Met deeglike navorsing en ’n empatiese blik vertel sy die stories agter die opspraakwekkende moorde, verdwynings en onopgeloste sake wat gemeenskappe diep geraak het. In hierdie gesprek verken Engelbrecht die werklike mense, ondersoeke en vrae wat agter hierdie sake lê. Dit is ’n insiggewende en soms ontstellende blik op die donkerder kant van die samelewing, maar ook op die soeke na waarheid en geregtigheid.

Nicole Engelbrecht het die potsending True Crime South Africa in 2019 begin. Dit is een van die gewildste potgooie in Suid-Afrika en is al met verskeie toekennings vereer. Haar boeke sluit in Samurai Sword Murder – The Morne Harmse Story, Sizzlers – The Hate Crime That Tore Sea Point Apart, en Killer Stories waarvan sy ’n medeskrywer was.

Onthou is die dag wat breek

Lina Spies is een van die bekendste en mees geliefde Afrikaanse digters met ’n goue oes van ikoniese gedigte soos “Op die dood van Riëtte”, “’n Paternoster vir Suid-Afrika”, “Lied van die kinders” en “Rembrandt”.

Ons is oortuig dat die eerbaarste eerbetoning betuig word deur die poësie van mededigters.

Die bundeltitel is ontleen aan ’n versreël uit een van Spies se verse, naamlik “Kringloop” (opgeneem in Sulamiet, 2016) en dui op die samevoeging tussen herinnering en voortsetting. In elkeen van die vier en vyftig opgenome gedigte is sprake van aanknopingspunte.

Sommige verse tree op ’n duidelik aantoonbare wyse in gesprek met spesifieke gedigte van Spies. Benewens direkte ruggespraak sluit sommige verse ook op ’n subtieler en wyer omskrewe wyse aan by tematiese kodes in Spies se repertoire soos kinders, katte, kunstenaarskap en die dood.

Ons hoop dat hierdie huldigingsbundel poësielesers sal aanmoedig om met hernude belangstelling die digkuns van Lina Spies te verken en haar blywende impak op die Afrikaanse digkuns in oënskou te neem.

Alwyn Roux en Neil Cochrane is verbonde aan die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap aan Unisa. Hulle is die samestellers van Merang (2025), ’n versameling van 182 nuwe Afrikaanse gedigte. Roux se debuutbundel, Weerskyn (2024) was op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.