btt

Herskrywing, representasie en intermediasie

Ons leef in ’n tyd van herskrywing waar boeke “gelees” word en rolprente en dramas “gekyk” word deur resensies te raadpleeg. Romans en selfs kortverhale word dikwels intermediaal herskryf of “vertaal” as dramas of films. Herskrywing geskied nooit neutraal nie en is afhanklik van die historiese, ideologiese, sosiale en literêre konteks waarbinne dit opnuut gerepresenteer word. Hierdie boek, Herskrywing, representasie en intermediasie is ’n teoretiese, historiese en praktiese besinning op, en illustrasie van hierdie prosesse.

Hennie van Coller is ’n professor in Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n hoogs gerespekteerde letterkundige. As kritikus, redakteur en digter is hy veral bekend vir Perspektief en profiel. Oor dekades het hy deur navorsing, publikasies en resensies ’n groot bydrae gelewer en is hy met verskeie toekennings, insluitend die Jan H Maraisprys, bekroon.

Anthea van Jaarsveld het drama aan die UV studeer en was daarna dramadosent by Eunice Girls’ School. Daarna was sy ’n dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands waar sy op die dramagenre in Afrikaans gefokus het en dus nooit die wêreld van drama en teater verlaat het nie.

Historiese Almanak

Albé Grobbelaar is ’n ervare radioman en joernalis wat oor dekades ’n kenmerkende styl van geskiedvertelling ontwikkel het. Hierdie bondige geskiedenisflitse in Historiese Almanak bied verrassende, fassinerende insigte. Dit is ’n keur van sy radiopraatjies en koerantrubrieke en is gegrond in ’n lewenslange belangstelling in die verlede sedert sy eerste program in Februarie 1982. Elke vertelling is ’n klein ontdekking: boeiend, toeganklik en ryk aan besonderhede. Die tekste is noukeurig gekies en getuig van deeglike navorsing en vertelvernuf, deurgaans aanskoulik.

Albé Grobbelaar is ’n ervare radioman, joernalis en skrywer met ’n besondere belangstelling in geskiedenis. Hy is veral bekend vir sy historiese radiopraatjies en koerantrubrieke waarin hy interessante gebeurtenisse en verhale uit die verlede toeganklik en boeiend vertel, met ’n lojale aanhang onder luisteraars en lesers het.

Klawer

Musikante is reisigers, avonturiers, altyd op pad na onbekende bestemmings, na nuwe plekke en nuwe mense. Dis ’n avontuur, ’n ontdekking vol verrassings en verwonderings. ’n Avontuur is egter nie net ’n fisiese reis nie, maar ook ’n innerlike reis van groei en selfontdekking. Hierdie bundel kortverhale oor van die plekke in Suid-Afrika waar Rocco de Villiers al opgetree het, bied ’n anderste reis deur ons land… een waarin hy vertel van sy ervarings en avonture in sommige van sy konsertbestemmings.

Rocco de Villiers (1965) is op Harrismith in die Vrystaat gebore. Hy is ‘n pianis, vermaaklikheidskunstenaar, komponis en skrywer wat in Kaapstad woon. Jaarliks bied hy meer as honderd vertonings reg oor Suid-Afrika.

Klein Konings

Min weet die staatsamptenare Pixley en Joubert wat op hulle wag wanneer ’n minister hulle opdrag gee om apartheid en koloniale monumente regoor die land te ondersoek en te verwyder. Terwyl hulle op reis gaan om hierdie belaaide geskiedenis te evalueer, raak hulle ook vasgevang in hul eie persoonlike stories. Familie, liefde en selfs die bonatuurlike begin inmeng en soos geheime na vore kom, raak die vrae oor verlede en erfenis net al hoe ingewikkelder.

Theo Kemp het sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy was voorheen betrokke by verskeie projekte in die kunste in sy rol as, onder meer, projekbestuurder van die Woordfees, reklamekoördineerder by NB-uitgewers, programbestuurder van die KKNK asook die Vrystaat Literatuurfees en as uitvoerende bestuurder van die Breytenbach Sentrum op Wellington.

Klip Koud (Bare Bones)

Nicole Engelbrecht gesels oor haar ware misdaadboeke Klip Koud en Bare Bones, waarin sy van Suid Afrika se mees ontstellende misdaadsake ondersoek. Met deeglike navorsing en ’n empatiese blik vertel sy die stories agter die opspraakwekkende moorde, verdwynings en onopgeloste sake wat gemeenskappe diep geraak het. In hierdie gesprek verken Engelbrecht die werklike mense, ondersoeke en vrae wat agter hierdie sake lê. Dit is ’n insiggewende en soms ontstellende blik op die donkerder kant van die samelewing, maar ook op die soeke na waarheid en geregtigheid.

Nicole Engelbrecht het die potsending True Crime South Africa in 2019 begin. Dit is een van die gewildste potgooie in Suid-Afrika en is al met verskeie toekennings vereer. Haar boeke sluit in Samurai Sword Murder – The Morne Harmse Story, Sizzlers – The Hate Crime That Tore Sea Point Apart, en Killer Stories waarvan sy ’n medeskrywer was.

Onthou is die dag wat breek

Lina Spies is een van die bekendste en mees geliefde Afrikaanse digters met ’n goue oes van ikoniese gedigte soos “Op die dood van Riëtte”, “’n Paternoster vir Suid-Afrika”, “Lied van die kinders” en “Rembrandt”.

Ons is oortuig dat die eerbaarste eerbetoning betuig word deur die poësie van mededigters.

Die bundeltitel is ontleen aan ’n versreël uit een van Spies se verse, naamlik “Kringloop” (opgeneem in Sulamiet, 2016) en dui op die samevoeging tussen herinnering en voortsetting. In elkeen van die vier en vyftig opgenome gedigte is sprake van aanknopingspunte.

Sommige verse tree op ’n duidelik aantoonbare wyse in gesprek met spesifieke gedigte van Spies. Benewens direkte ruggespraak sluit sommige verse ook op ’n subtieler en wyer omskrewe wyse aan by tematiese kodes in Spies se repertoire soos kinders, katte, kunstenaarskap en die dood.

Ons hoop dat hierdie huldigingsbundel poësielesers sal aanmoedig om met hernude belangstelling die digkuns van Lina Spies te verken en haar blywende impak op die Afrikaanse digkuns in oënskou te neem.

Alwyn Roux en Neil Cochrane is verbonde aan die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap aan Unisa. Hulle is die samestellers van Merang (2025), ’n versameling van 182 nuwe Afrikaanse gedigte. Roux se debuutbundel, Weerskyn (2024) was op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.

Lyfluister

Lyfluister het oor veertig jaar in Gretha van der Merwe gegroei. In haar dagboeke skryf sy oor uitdagings soos depressie, teleurstelling en angsaanvalle wat eers as epilepsie gediagnoseer is, asook skokterapie en verblyf in Stikland. Haar keerpunt kom toe sy na haar liggaam begin luister. In dié boek deel sy haar reis van spirituele ontwaking en emosionele volwassenheid. Sy verweef geloof, natuur, sielkunde en Oosterse wysheid met praktiese raad vir almal wat sin en ’n doel soek.

Gretha van der Merwe is ’n internasionale meester-gesertifiseerde afrigter en fasiliteerder. Sy verken al byna twintig jaar die velde van sielkunde, die bewussyn, die liggaam-gees-siel-verbintenis en leierskap. Sy is ’n mentorafrigter en is deur die Internasionale Afrigtingsfederasie (MCC-ICF) geakkrediteer. Sy werk saam met privaat kliënte en sakeleiers wat bereid is om ’n innerlike reis aan te pak, hul “heel self” te laat leef en meer harmonieuse verhoudings te ervaar.

Mei en alles daarna

Ná die wêreld se mees beskaafde egskeiding, bevind ’n ontnugterde Juna Ferreira haar in ’n klein dorpie sonder ’n plan vir haar toekoms. Wanneer sy ’n unieke litteken op ’n dorpenaar se wang herken, stuur dit haar in die teenoorgestelde rigting – ver, ver die verlede in. Sy herbesoek haar grootwordjare op die Vrystaatse goudvelde; ’n tyd wat sy as sorgvry en gelukkig onthou. Maar was dit regtig so? Hoeveel donker geheime lê vasgevang in die ruïne van die eens statige ou Limestone House?

Zelda Bezuidenhout is ’n skrywer van jeugverhale, kortverhale, radiodramas, rubrieke, reklamekopie en volwasse fiksie. Haar eerste roman vir volwassenes, Die dekonstruksie van Retta Blom, het in 2019 verskyn en haar tweede, Die waarde van stil bure, in 2021. In 2020 behaal sy en Lunéll Kruger die eerste plek in Netwerk24 se luisterdramakompetisie met Koppelkat. Sy woon op Parys in die Vrystaat.

Daardie Lewe: Karel Schoeman

Karel Schoeman is een van Suid-Afrika se belangrikste skrywers, bekend vir die gehalte en omvang van sy werk oor verskeie genres. In Daardie lewe gebruik Ria Winters nuwe bronne uit argiewe, koerante en korrespondensie om sy lewe en werk te belig. Sy ondersoek ook sy outobiografiese skryfwerk en boeke, en vul die laaste jare ná Die laaste Afrikaanse boek aan. Die biografie plaas sy lewe binne die Suid-Afrikaanse geskiedenis en sluit foto’s, eindnotas en ’n bronnelys in.

Die Nederlandse historikus Ria Winters is verbonde aan die Universiteit van Amsterdam en bly in Amersfoort. Deur haar korrespondensie met Schoeman van April 2014 tot 1 Mei 2017 het haar belangstelling in sy werk en die Afrikaanse taal en letterkunde begin. Daardie lewe is Winters se tweede boek oor Schoeman. Die eerste was Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer (Protea Boekhuis, 2020).

Dharma-dwaas in Doodloopstraat

Die verhaal volg weer Biko April, wat drie dae het om blyplek te vind – platsak en sonder plan. Tydens hierdie krisis ontmoet hy by ’n kunsuitstalling ’n Joodse meisie wat sy lewe verander. In die vroeë 2000’s in Kaapstad, te midde van PAGAD-bomme en spanning, ontvou ’n onvoorspelbare liefdesverhaal wat hoop bring. In Dharma-dwaas in Doodloopstraat bou Septembir voort op sy debuut en meng literêre fiksie met satire, erotiek en spiritualiteit en verken begeerte, identiteit, geloof en waarheid.

Sjaka Septembir is al drie dekades lank ’n skrywer, digter, akteur en regisseur, bekend vir grensverskuiwende werk wat literatuur en teater meng. Sy debuutroman het sterk reaksie ontlok en is deur kritici hoog geprys. Met Dharma-dwaas in Doodloopstraat bevestig hy weer sy plek as ’n unieke en uitdagende stem in die Afrikaanse letterkunde.