btt

Ek koop my eie blomme

Miley Cyrus se “I Can Buy Myself Flowers” het ’n kreetlied vir enkellopende vroue reg oor die wêreld geword. In dié eenvrou-komediedrama deel die eiendomsagent Natalie Jackson die op-en-af van haar verhoudings, kinders, loopbaan en vriendskappe. In haar vroeë vyftigs is sy amptelik oud genoeg vir ’n tweede of derde huwelik, jonk genoeg om nie vir apartheid geblameer te word nie en vrou genoeg vir menopouse. Natalie en haar vriendinne noem nie verniet hul WhatsApp-groep Ses-in-die-city nie! Ná jare van terapie om haar demone én die patriargie te tem is Natalie uiteindelik gereed om volgens haar eie voorwaardes te leef.

Mme We!

MME WE! is ’n aangrypende en intieme teaterwerk wat delf in die kompleksiteite van ’n moeder-dogter-verhouding soos gevorm deur stilte, veerkragtigheid en generasie-verlange. Dit speel af in die intieme ruimte van ’n gesinshuis. Die produksie ontvou deur ’n ryk wisselwerking van dialoog, beweging en sang, en onthul die emosionele landskappe, spanninge en onuitgesproke verbintenisse wat die lewens van swart vroue definieer.

Die Rebellie van Lafras Verwey

Die Rebellie van Lafras Verwey is een van die bekendste werke van die bekroonde dramaturg en skrywer Chris Barnard. Ná 56 jaar is hierdie radiodrama steeds relevant en ’n meesterlike verkenning van eensaamheid, verbeelding en die mens se behoefte om betekenis te vind binne ’n wêreld wat dikwels ongenaakbaar en beperkend voel. Hierdie produksie word aangebied as ’n luisterdrama én lewendige uitvoering wat die unieke atmosfeer van die oorspronklike radiodrama vasvang.

Amazeze

Suid-Afrika

Teen sononder, wag Tonderai, ’n jong Zimbabwiese seun wat in ’n Suid-Afrikaanse township woon, angstig dat sy ma terugkeer van die werk. ’n Xenofobiese skare saai verwoesting en hy vrees die ergste. Hy hou wag oor sy ernstig siek en bedlêende jonger broer, wat desperaat is vir drinkwater. Sonder lopende water in hul sinkhuisie moet Tonderai soos ’n knaagdier in die skaduwees skuil om veilige drinkwater by die gemeenskaplike kraan te gaan haal en só sy lewe waag omdat sy bure buitelanders aanval.

LEEFBAAR

‘n Nuwe Afrikaanse toneelstuk deur Nico Scheepers ondersoek die brose grense tussen familie, geheue en oorlewing. Wanneer Stefan onverwags hoor dat sy ouers op pad is – ná jare se halfsinne en ontwykende kontak – word sy noukeurig gekonstrueerde lewe stilweg ontwrig. Dit is ’n skerpsinnige en herkenbare blik op erfenis … nie net van grond of besittings nie, maar van liefde, skuld en verwyt. Met fyn waarneming en donker humor ontbloot LEEFBAAR die Afrikaner se byna bonatuurlike vermoë om in stilte te oorleef.

Eugene

Eugene, gebaseer op Kirby van der Merwe se bekroonde roman, is ’n rou, poëtiese portret van ’n man tussen wêrelde: streetwise maar skynbaar middelklas, ’n flaneur, soeker en verlore seun wat werklik sien. Die produksie ondersoek gemarginaliseerde manlikheid, geestesgesondheid en trauma, en raak aan liefde, haat, vertroue, verraad en vergifnis. Met Brechtiaanse vervreemding word sy reis ’n soektog na integriteit en menslikheid te midde van onreg en wanhoop – ’n aangrypende, stylvolle werk.

’n Ko-produksie van Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees & Toyota Stellenbosch Woordfees, ondersteun deur NATi, die Festival Enterprise Catalyst (FEC), die Jobs Fund & Het Jan Marais Nationale Fonds.

Die Doolhof

Ná ’n kort draai by ’n verlate gebou bevind ’n familie hulself vasgevang in ’n onontkombare nagmerrie. Hulle word dieper in ’n doolhof van geheime en skaduwees getrek en moet veg om te oorleef tydens ’n nag van terreur wat dreig om hul liefde uitmekaar te skeur. Maar met elke nuwe openbaring begin die lyn tussen rede en waansin vervaag en dié wat eens vertrou is, word vyande wat binne die duisternis van die doolhof skuil.

Waterbrief

Na haar tragiese verdrinking lig Nina die sluier tussen lewe en dood om na haar familie se rou te kyk. Sy sien hoe hulle ly, baklei, liefhet en wanhopig word sonder haar teenwoordigheid. Maar sy help hulle ook om weer liefdevol, lewendig en vol hoop te wees. Waterbrief is geskryf deur die bekroonde dramaturg Nico Scheepers en met die uiters talentvolle aktrise Minke Marais is dit ’n drama vir almal wat iemand liefhet wat oorlede is. Vir almal wat weet hoe oorweldigend stilte kan wees.

Kinderlê

’n Wrok, sê hulle, is ’n seer ding om te koester. Namas en Boesmans word mos as vreedsame mense uitgebeeld – mense wat weggee as daar moet weggegee word. Maria het, soos Hanna, ’n kjeent by God gesmeek, en Dammas is vir Dawid en Maria gegee. Maar op ’n Sondag in 1867 word hul kamp, Nona-Ams, oorval. 32 Nama-kjeeners sterf. God wat gee, vat ook terug. Dié stuk ontbloot ’n minder bekende Noord-Kaapse geskiedenis – ’n verhaal oor ma-wees, geloof en letsels wat steeds oor Namakwaland lê.

’n Ko-produksie van die Stellenbosch Toyota Woordfees en Suidoosterfees, ondersteun deur NATi en Festival Enterprise Catalyst (FEC), in samewerking met die Jobs Fund.

Liefde, Lafras

Lafras sterf, maar verlaat nooit die huis nie. Gertie moet leer saamleef met haar man se spookbestaan terwyl sy haar eie lewe probeer hervat. Terwyl hulle ’n vreemde tweede wittebrood beleef, verloor Lafras stadigaan sy krag en teenwoordigheid en bevraagteken alles van God tot liefde en die sin van die lewe. Gertie weet egter wat sy moet doen – en besluit uiteindelik om beheer oor haar eie toekoms te neem, al beteken dit sy moet hom laat gaan.