btt

A Girl Called Owl

Wanneer Olivia na ’n klein dorpie in die Overberg verhuis, trek haar stil nuuskierigheid ’n ondeunde vriendin aan: Kay, die meisie met die litteken, wat haar die bynaam “Uil” gee. A Girl Called Owl is ’n onverskrokke grootwordverhaal oor verlore onskuld, onderdrukte kreatiwiteit en misverstaande liefde.

’n Pamflet met besonderhede oor die inhoud van die produksie is beskikbaar.

Die ander dogter

’n Tienjarige dogter vind toevallig uit van ’n suster wat twee jaar voor haar geboorte oorlede is. Dié dogter was die Franse skrywer Annie Ernaux, wat in 2022 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het. Skielik was Annie nie meer ’n enigste kind nie, maar die plaasvervanger vir ’n groot afwesigheid wat voortleef in haar ouers se woordelose verdriet. Haar suster moes sterf sodat sy as die “vervanger” kon leef. ’n Ragfyn stuk oor skuld, familie en verlies.

’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie

Die Ontmoeting

’n Middeljarige man kom op ’n afgelëe staproete van aangesig tot aangesig met die boelie uit sy tienerjare te staan. Die geleentheid vir wraak wink, maar eers moet hy besluit of sy boelie reeds boete gedoen het. Die Ontmoeting is donkersnaaks en diep menslik en verken manlikheid en die blywende letsels van wreedheid op skool. Terselfdertyd daag dit ons uit om ons gepolariseerde narratiewe van slagoffer en oortreder, wraak en versoening, en die natuur versus versorging te heroorweeg.

Doolhof

’n Jong paartjie is vasgevang in die smeulvuur van liefde, geloof, seksuele grense en verwagtinge wat in elke gesprek vlamvat. Ewan plaas druk op die volgende stap in die verhouding. Joey kyk vas teen haar geloof en haar beginsels. Met poëtiese monoloë, realistiese konfrontasies en stiltes wat meer sê as woorde, verken Doolhof die werklike vrae van jong volwassenes vandag: Hoe werk liefde as jy steeds na jouself soek? Hoe vêr is te vêr? Dis rou, dis eg, dis onvoorspelbaar.

Huis van Sand

Huis van Sand vertel van Babs en Sandy wat leef op die leftovers van hul verlede. Hul klein karavaan is ’n pondokpaleis vol geheime – hul eie sandkasteel. Sandy het haar swerwersbestaan langs die N7 verruil vir ’n nuwe begin by Rodney, die bottel gebêre om Babs groot te maak. Maar daarmee saam het groeipyne en erfsondes gekom. Babs probeer haar herinneringe afwas, maar die stofstorms van die verlede haal haar telkens in. Hul onthou neem die gehoor op ’n verbeeldingsvlug waar grense begin vervaag.

’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi

Jakob

Jakob is ’n boeiende verhaal oor ’n vreemde, klein seuntjie; en oor liefde, lig en alles wat tussenin weerspieël. Die sentrale tema draai om vooroordeel en vertel die verhaal van ’n kind wat anders gebore word en deur die gemeenskap waarin hy woon, verstoot word. Die drama volg Jakob se reis deur sy kinderjare en ondersoek die maniere waarop hy leer om met sy uitsluiting saam te leef.

Liesbet

Suid-Afrika

‘n Veerkragtige ouma en enigste broodwinner streef na haar droomhuis. Maar wanneer haar vervreemde, dwelmverslaafde dogter haar kleinkind wegneem, word sy gedwing om te kies tussen haar droom en die redding van haar gesin.

18

Suid-Afrika

Die film speel hoofsaaklik in die hof af waar die misterie agter die dood van ’n jong meisie wat wreed vermoor en verkrag is, ontrafel. Haar verpletterde ma is aan die genade van die stelsel oorgelaat om geregtigheid te vind.

KIRA

In die nie-so-verre-nie-toekoms, beheer die grootste korporasie op die planeet die aarde se kosbaarste hulpbron: water. Eve en Max is gereed om alles op die spel te plaas om die waarheid bloot te lê sodat die mensdom ’n kans op oorlewing het. Wanneer die gevaar naderkom, spring Kira in om te help. Maar wie, of wat, is Kira? In ’n wêreld waar die grense tussen werklikheid en tegnologie vervaag, wat is werklik? En belangriker nog, wat is die waarheid?

Sewe

Suid-Afrika

Michelle is vasgevang in ’n verhouding wat meer en meer manipulerend en gewelddadig raak. Tog sukkel sy om Francois te los. Volgens statistiek neem dit ’n vrou gemiddeld sewe pogings om uit ’n gewelddadige verhouding te ontsnap. Maar Michelle word al dieper in die verhouding ingetrek, omdat sy bly glo dat Francois sal verander. Uiteindelik besoek hulle saam ’n sielkundige, waar Michelle gedwing word om die waarheid in die oë te kyk wanneer die sielkundige haar vra: “Wat is jóú sewe?”

Afrikaans met Engelse onderskrifte.